Tuesday 21 January 2014

Was dié opmerkings regtig nodig?

In die Oos-Kaapse "Die Burger" (20.01) word berig dat prof.Jonathan Jansen op Kovsies se 2014-openingseremonie vir eerstejaars gesê het: "As jy enige rassisme het, loop. As jy enigsins seksisties is, soek ek jou nie hier nie!" Kan ouers én onderwysers verkwalik word sou hulle dié opmerkings   -   gerig aan die "produkte" van hul jarelange huislike en skoolse opvoeding en onderwys   -   as beledigend beleef het? Waarom die sterk persoonlike "ek" (Jansen) soek jou nie hier nie, en nie eerder die UV en  -kampuslewe soek jou nie hier nie? Kan Jansen wel onderskeidend dink ten opsigte van homself en die UV-owerhede?

Dié berig meld nie óf Jansen dié dreigement-waarskuwing slegs in Afrikaans tot die studente gerig het, en óf hy dit ook in Engels en Afrika-tale herhaal het nie. Indien nie, is dit 'n duidelike insinuasie dat hy slegs wit Afrikaanse studente uitsonder as rassiste en seksiste, 'n blatante vorm van diskriminasie en menseregte-skending. Indien dit wel die geval sou wees, is Jansen 'n verskoning aan die Afrikaanstalige deel van die UV-studentegemeenskap verskuldig. En ook, weer net indien wel, regverdig dit nie 'n klaglegging by die menseregte-kommissie (MRK) nie? Indien sy opmerkings van 'n meertaligheidskarakter getuig, verval dié argument.

Veroordeel Jansen veral ouers, maar ook onderwysers, indirek veralgemenend wat aan kinders 'n rasbewuste,  -trotse en  -behoudende opvoeding gee? Belet die SA-grondwet op enige wyse sodanige opvoeding en onderwys waarvolgens elke kind se ras die nodige erkenning geniet? En het jongmense   -   na twaalf jaar van onderwys in 'n multikulturele skool-  en onderwysomgewing   -   dié kwetsende en vernederende verwelkoming van Jansen nodig? Dit pas beslis nie die aansien en status van rektorskap nie. Watter konstruktiewe bydrae is deur dié opmerkings gelewer? Was dit regtig nodig?

No comments:

Post a Comment