Monday 27 January 2014

Doen jou eie dinkwerk op jou taalvlakte

Ek verwys na Nato Zondagh se brief (DB,24.01) waarin hy, volgens hóm, reageer op my skrywe oor "taalaristokrate". Hy tas heeltemal mis, want my brief (DB,21.01) het gehandel oor Standaardafrikaans.

Vergelyk ek dié skrywe van my met 'n weegskaal, het ek voorspraak vir die behoud van Standaardafrikaans in die een weegbak, en die pleidooi vir die afwaartse aanpassing daarvan (DB,18.01) in die ander weegbak geplaas. Vergelyk ek Zondagh se kritiek op my skrywe óók met 'n weegskaal, posisioneer hy homself in die "positiewe", en vir my in die "negatiewe" weegbak. Hy wend geen poging aan om Standaardafrikaans beredeneerd te debatteer nie.

Hy sê van homself: "Ons wat op die taalvlaktes dink, dink varser, oorspronkliker en slimmer...ek...is heel gelukkig daar...(en) ons horison is allesbehalwe beperkend." Van my sê hy: "...ek wat volgens Breitenbach op die taalvlakte beweeg...vind dit steurend dat Breitenbach impliseer dat die vlaktebewoners...taalgebruikers van mindere intelligensie is...mense sal geaffronteer voel oor Breitenbach se neerbuigende houding..."

Watter klomp bog! Zondagh, ék het jou beslis nié op die taalvlakte geplaas nie. Jy doen dit jouself, en indien die skoen jou pas as sélfverklaarde "vlaktebewoner...van mindere intelligensie", trek dit gerus aan. Ek het wel verwys na 'n algemeen gestratifiseerde denk-, -taal en intellektuele gelaagdheid binne die Afrikaanse taallandskap. Weerlê gerus dié universele gelaagdheid wat binne enige taalgemeenskap voorkom.

Zondagh pas die strategie van inlegkunde toe waarvolgens hy geriefshalwe dinge "inlees" in wat ek nié gesê het nie. Hy praat van "steurend" en "geaffronteer" te wees deur my skrywe. Wat moet ek van syne sê, hy wat sê: "Standaardafrikaans het my volle ondersteuning", dog vir my vra om " 'n trefwoord te gee om cool mee te vervang"? Zondagh, doen dit self. Jy dink dan so "vars, oorspronklik en slim" op jou taalvlakte!




No comments:

Post a Comment