Jaco Fouché se brief, "Laat eerder toe dat Afrikaans groei" (DB,27.03), verwys. Hierin sê Fouché: "Ek stem saam met bruin mense wat voel dat Afrikaans 'n kreoolse...fase moet betree...(want) deel van die geneuk is dat baie wit mense vrek bang is iemand verdink ons van verwantskap met bruin mense."
Dis jammer dat Fouché wit-bruinverhoudinge by die taalkwessie betrek. Elke geleentheid word benut om dié verhoudinge te vertroebel, maar gelukkig verskyn die meer realistiese artikel, "Afrikaans nie net vir straatdeuntjies nie" (DB,27.03), bokant sy brief.
In hierdie artikel verwys Magdel Fourie na die menings van Ettienne van Heerden, Christo van der Rheede en professore Ampie Coetzee, Hermann Giliomee, Willie Burger, Joan Hambidge en Theo du Plessis oor die toekoms van Afrikaans.
Dit is duidelik dat die gesprek oor Afrikaans op minstens twee vlakke gevoer word: op die vlak van "Straatafrikaans" vir "straatdeuntjies", asook op universiteitsvlak wat betref sy hoër funksies. Hieromtrent sê Van Heerden: "...die sterfte lê op die hoër vlak, eerder as straatvlak."
Waar Fouché se mening in hoofsaak op "straatvlak" lê, lê dié van Van Heerden op die vlak van die hoër funksies van Afrikaans.
Dis géklik-absurd om te dink dat jy mense intellektueel kan ophef ("bemagtig") deur die verlaging van taalstandaarde. "Straatafrikaans" verteenwoordig laevlak-denke; universiteitstaal verteenwoordig gespesialiseerde vaktaal op hoëvlak-denke.
Kundiges van vroeër het gesê: die (hoëvlak) denke kan nie ontwikkel as die denkinhoud en denkresultaat nie in (hoëvlak) taalvorm gegiet word nie, en : niemand kan ook "verder" (hoër) dink of "anders" dink as wat sy taal hom toelaat nie.
Verteenwoordig Fouché se bedenklike standpunt oor taalkreolisering die mening van alle bruin mense? (ngn)
No comments:
Post a Comment