Wednesday, 24 March 2010

Afrikaner-ontrou 'n rede tot skaamte

Johan de Lange se brief, "Briefskrywer moet hom hieroor skaam" (DB,20.03), verwys.

De Lange sê: "Die arrogansie van die man (Breitenbach) bly verstommend". Ek wil vir De Lange sê : skaam jóú om so blatant van die onaanvaarbare inlees-tegniek gebruik te maak. As dít nie 'n vorm van arrogansie is nie, wat is dit dan?

De Lange moet sê waar ek in my brief beweer, of suggereer, dat "...bruinmense wit Afrikaner-belange (moet) ondersteun of in die algemeen goedgesind...teenoor hulle (moet) wees...(en) van die mense (te) verwag om jou ter wille te wees." Is dit De Lange se eie heimlik gekoesterde verwagtinge van bruin mense teenoor hóm wat hy op my brood wil smeer?

De Lange sê dat "...'wit Afrikaners' (het) dié mense...verneder deur hulle van hul basiese menseregte te ontneem..."   -   en hy noem dan voorbeelde. De Lange is gedeeltelik reg, maar is sy voorstelling verteenwoordigend van die volle waarheidsverhaal?

De Lange maak hom skuldig aan historiese kortsigtigheid. Hoe ver strek sy visie terug op die ontwikkelingsgeskiedenis van die verhouding tussen bruin mense en Afrikaners   -   1994, 1948, of tot by hul eerste aanraking in 1652? En verreken hy die invloed van die internasionale gemeenskap oor 'n tydperk van 360 jaar op dié verhouding?

'n Mening wat op oningeligtheid berus, herinner aan die Engelse gesegde: "Ignorance is bliss, but how embarrassing." Het om "willingly ignorant" te wees 'n kenmerk van ons "demokrasie" geword?

Ek sal my inderdaad skaam   -   nie om die redes wat De Lange aanvoer nie   -   indien ek ontrou aan my Afrikanerskap sou wees.

No comments:

Post a Comment