Tuesday 23 March 2010

Wil nie in aanvalle op Afrikaners deel

Emile Koen se brief, "Speel die bal, nie die man nie" (DB,20.03), verwys.

Ek stem beginselgewys met Koen saam om die bal en nie die man te speel nie, dog Koen sal óók weet dat 'n bal nie sonder baldraers hanteer word nie. Om balbesit om te keer, bring jou noodwendig by die baldraer uit.

Wil Koen nie maar vir ons volledig uitspel wat dié "bal" vir hóm behels nie? Ek vermoed dat ek en Koen met verskillende "balle" te make het en derhalwe met verskillende kontekstuele "spelsoorte" soos bepaal deur elkeen se "bal", Koen s'n oënskynlik "rasse-harmonie", en myne "Afrikaner-verweer".

Koen sê: "Die sentimente wat hy (Breitenbach) uitspreek doen bitterweinig om rasse-harmonie te bevorder...(en) Dat Breitenbach nou nog in kleurhokkies dink..." Moet ek, ter wille van "rasse-harmonie", toesien hoe, deur aanvalle, ons Afrikanerskap afgebreek word? Bevorder negatiewe dinge wat bruines van Afrikaners kwytraak   -   met verwagte stilswye van Afrikanerkant   -   hoegenaamd rasse-harmonie? Watter soort logika is dit dié? Verbied die Grondwet dan die voortbestaan van Afrikaners?

Koen wil ook graag my mening verneem oor "...die wanbetaling van dienstegelde...(en) Boesak se benadering tot sleutelkwessies." Vir dié doel verwys ek hom na Erika Ochse se brief, "Dié saadjie van wanbegrippe is Boesak glad nie waardig nie" (BY,20.03) waarmee ek identifiseer.

Dit is my keuse om by die verguisde Afrikaners van ons dag te staan. Ook sal ek een van die eerstes wees om hul foute van die verlede te erken, maar deel hê aan die aanvalle om hul ondergang te bewerk?
Aikôna! 

No comments:

Post a Comment