Tannie Ann se brief, "Taal van kerksang nie só belangrik"(DB,03.03), verwys.
Is die maatstaf vir aanddienste, Tannie Ann, "...om teen ooms en tannies se wense..." te gaan? Geld "...ooms en tannies se wense..." dan, by implikasie, vir oggenddienste? Is ooms, tannies of énigeen se wense hoegenaamd die maatstaf vir kerksang?
Die toenemende Engelse liederesang in ons kerke is, onder meer, die vrug van die toegelate jeugsang van die verlede. In die 1970-ger jare vervoer ek kinders vanaf 'n (A)CSV-naweekkamp te Jeffreysbaai huis toe. Hulle sing een Xhosaliedjie, twee in Afrikaans en dertien in Engels. Die taalskrif was aan die sangmuur.
Hierdie kinders is vandag in hul laat veertiger- en vroeë vyftigerjare, en - as't ware "geskool" in Engelse sang deur 'n NGK-jeugbediening - is dit vandag vir hulle as volwassene lidmate, waaronder ook predikante, die "sangformaat" waarvolgens hulle groot gemaak is.
Ek het geen erg aan die Engels-gesingery nie (later ook Engelse Bybel?), maar kan ons die huidige geslag lidmate verkwalik dat hulle daartoe gelei is deur 'n jeugarm van die NGK? Met dié onvergenoeglike gevolge, móét ons vra na die ware oorsake daarvan.
'n Vriend vertel - of dit so is, weet ek nie - dat voor Lucifer se opstand teen God, hy die sangleier in die hemelse lofprysingsbedeling was. Indien wel, kén hy mos die strategies-verdelende potensiaal van kerksang. Het kerksang in Engels ons verdeel? Wie verdeel en heers by uitnemendheid? U ken die antwoord.
Is die verdelende effek van taal regtig onbelangrik in die NGK? (ngn)
No comments:
Post a Comment