Friday 26 March 2010

Zuma kan dalk munt slaan hieruit

In sy Maandag Aktueel-artikel, "Net dan sal die bruines se agterdog verdwyn" (DB,22.03), stel Heindrich Wyngaard die aktuele vraag: "Hoe definieer 'n mens...'Afrikaanse' kwessies?"

Wyngaard vra dié vraag na aanleiding van 'n ontmoeting tussen Zuma en 'n groep "uitgesoekte" Afrikaanssprekendes (breër konteks), dog "...die name wat bekend is, is slegs dié van Afrikaner-individue" (enger konteks).

Zuma beoog die samestelling van 'n komitee "...om na 'Afrikaanse kwessies' om te sien." Tereg vra Wyngaard derhalwe na 'n definisie vir "Afrikaanse kwessies". Aangesien definisies kontekstueel-bepaald is, is Wyngaard geregtig om te vra of dié definisie binne die breër konteks (bruines ingesluit) of binne die enger konteks (bruines uitgesluit) val. Ek sou dieselfde vra.

Die enigste een wat dié vraag kan beantwoord, is Zuma self. 'n Verdere vraag is óf Zuma nie dalk iets in die mou voer nie, soos om wit en bruin teenoor mekaar af te speel om munt daaruit te slaan nie. Waarom? Verdeel en heers!

My indruk is dat bruines, soos Afrikaners, óók onderling verdeeld is, daarvan getuig hul (soos by Afrikaners) behorendheid tot verskillende politieke-, kerklike- en taal-affiliasies. Daarom is dit jammer dat sommige bruin skrywers spanningskeppend-kwetsende uitlatings oor Afrikaners maak, en só in Zuma se hande speel.

Boesak, byvoorbeeld, verwys agtingloos na Afrikaners se "...etniese mobilisering   -   hard en skaamteloos". Verbied die onderhandelde Grondwet Afrikaners dan om hulself as volk te handhaaf? Moet Afrikaners dan nou die "riel" dans wat "kitaarslanende" Boesak, ongevraag, vir hulle wil uittokkel?

Zuma is beslis nie hieromtrent oningelig nie, en hy mag dalk net dié situasie uitbuit om politieke gewin.

No comments:

Post a Comment