Thursday 25 March 2010

Jansenprentjie word algaande duideliker


Prof. Jonathan Jansen se artikel, "Soort soek soort, in 'n nuwe sin van die woord" (DB,23.03), verwys. Hiermee verskaf hy nóg 'n legkaartstukkie waardeur hy besig is om vir lesers uiteindelik die finale "Jansenprentjie" te laat sien.

Die jongste legkaartstukkie is Jansen se besoek aan die Hoërskool Witteberg te Bethlehem. Volgens hom sou "...die naam Swartberg...meer geneë (wees) vir rasse-integrasie..."   -   asof dìt die primêre funksie van 'n skool kan wees!

Aan die einde van die verrigtinge sê die hoofmeisie vir Jansen: "U universiteit is uitnemend (aan wie te danke?)...ons sal na u toe kom. Soort soek tog soort." Hiervan sê Jansen: "Ek het nooit gehou van die woorde 'soort soek soort' ...nie...Maar op dié aand het dit volmaakte sin gemaak."

In "'n Hartsverhaal uit die hart van ons land" (DB,08.09.09), vertel Jansen van "...'n jong, wit vroulike student (wat) op en af gespring (het) uit protes teen die planne vir integrasie", en later vir hom kom sê het: "Maak my deel van die oplossing." Ek herhaal die vraag : is integrasie ook universiteite se primêre funksie?

In sy artikel, "Ras is maar 'n maaksel, eerder as wet van God" (DB,15.07.08), sê Jansen beskuldigend van Afrikaners : "Dié vier (bevolkings-)groepe durf ook nie   -   die gruwel van alle gruwels   -   saam slaap nie." 'n Besondere legkaartstukkie.

In sy brief, "Jansen se optrede is oëverblindery" (DB,03.11.09), verwys Wessel Ebersohn na Chris Louw wat in Rapport(25.10.09) van Jansen se uiteindelike doelwit sê: "Hoe kan die oorwonne Afrikaner-gemeenskap gelei word om sonder verset 'tuis te voel' in die transformasie-agenda?"

Hou gerus dié interessant-ontwikkelende Jansenprentjie dop.                                   (ngn)



No comments:

Post a Comment