Dat daar vir geruime tyd reeds, oor 'n wye spektrum, 'n felle en volgehoue aanslag op die Afrikaner se gevestigde identiteit geloods word, sal net deur gebreinspoelde Afrikaners ontken word wat tevergeefs in 'n "Afrikaner-dormante" Grondwet hul geborgenheid soek.
Op watter grondslag het die identiteitsbewuste, -besorgde en -handhawende Afrikaner derhalwe die beste kans op identiteitsoorlewing : in (volkse) groepsverband, of in individuele verband? Die eeue-oue beeld van die saamgebinde stokkies wat nie maklik gebreek word nie, dui in die rigting van eersgenoemde.
Waarom dan nie van die handhawing van ons Afrikaner-identiteit 'n ideaal (nie afgod) maak nie; nie net vir onsself nie, maar ook vir ons kinders en komende geslagte.
Sonder ideale is enige volk se voortbestaan gedoem. Volk en ideale is sinoniem. 'n Volk sonder ideale is 'n volk sonder toekoms. Sonder ideale tree stagnasie en verrotting in.
Een van die sekerste aanduidings van 'n gesonde volkslewe is die aanwesigheid van rigtinggewende ideale - volksideale - wat sodanig verwoord word, dat die hele volksgemeenskap daarvan kennis dra en dit gesamentlik nastreef ter realisering daarvan.
Hoe lyk die ideale van Afrikaners vandag? Is daar 'n bewusmaking van ideale by ons Afrikanerjeug? Het álle Afrikaner-volksideale verdwyn met die vertrek van die "ou SA"?
Diegene wat ons identiteitsondergang soek, verag kompromiemakers, oorlopers en verraaiers in Afrikanergeledere, maar toon wel agting vir diegene van wie Jan F.E.Celliers gesê het: "Ek hou van 'n man wat sy man kan staan..."
Laat Afrikaners vir hulself suiwer ideale daarstel, en, wie weet, deur die voorbeeldige nastrewing daarvan, ook ander kultuurgemeenskappe inspireer om dieselfde in eie kultuurkonteks te doen.
No comments:
Post a Comment