Wednesday 10 March 2010

Redakteur kan gerus stoele ruil

Die voorspelbare Henry Jeffreys braak andermaal gal teen wit mense in sy artikel, " 'n Middelklas-glybaan na sedisie en anargie" (DB,08.03).

Wil dié heer, in sy "hogere joernalistieke stoel", nie tog afkom aarde toe en hom kom vergewis van die verskille tussen appels en pere nie, want hy is duidelik nie in staat om appels van pere te onderskei nie.
Jeffreys beweer: "Die weiering van (meestal) wit inwoners om hul plaaslike belastings te betaal, is 'n onding". Hy erken darem dis nie "...(uitsluitlik) wit inwoners..." nie. Wie, volgens, Jeffreys, is die "res" dan   -   dalk bruines en/of swartes?

En hét Jeffreys en kie. hulle tog nie besònder navolgenswaardig gedra "...in die stryd teen apartheid...(en) die ou Konserwatiewe Party in Boksburg wat Klein Apartheid heringestel het..." nie? Meneer die redakteur, jy en jou kamerade se stryd was duidelik polities gemotiveer!

Wat u ongelukkig nie kan/wil raaksien nie, is dat "Die weiering van (meestal) wit inwoners..." nié primêr polities gedrewe is nie, maar wel deur ANC-onbekwaamheid tot dienslewering aan àlle plaaslike inwoners, en ook nie net in belang van bepaalde politieke ondersteuners nie.

Hierteenoor stel Jeffreys die roekeloos onverantwoordelike alternatief met sy opmerking: "Die arm belastingbetaler wat nie geld vir 'n trustfonds het nie, begeef hom op die afbrand van openbare geriewe." Impliseer Jeffreys dat laasgenoemde die meer aanvaarbaar geworde norm is as weerhouding van belastinggeld?

Meneer Jeffreys, ek dink u persoonlike uitlatings oor u eie politieke oortuigings pas beter in 'n parlementêre stoel as in 'n redakteurstoel. Waarom nie dié ruiling oorweeg nie?

No comments:

Post a Comment