Ek verwys na Corrie Kühn (DB,20.09) se brief. Wat my betref, skryf ek soos wat ek praat. Mense wat my ken, kan dit bevestig. Dit is wie ek is, en ek druk myself konsekwent sodanig uit in beide vorme van taaluiting. Ek dink nie ek hoef enigeen om verskoning te vra, of myself te verdedig, oor my taal- en skryfstyl nie.
Word ons nie deur ons taal, soos spoelklippe op 'n rivierbedding, verskillend geslyp nie? Waarom dan daarop aandring dat slegs die eie persoonlike voorkeur en taalbehoefte as norm sal geld? My taal- en skryfstyl blyk vir sommige 'n bedreiging eerder as 'n uitdaging te wees. Is middelmatigheid die maatstaf, en afwykendes dan taalketters wat uitgeban moet word? Word die waarheid van taalomgang op verskillende -vlakke tot leuen gemaak?
Job 34:3 sê: "Die oor (en ook die oog) toets woorde soos die verhemelte kos proe." Waarom nie ook my reg van keuse tot taaluitdrukking erken sodat dit ook smaaklike "kos" vir my eie "taalverhemelte" kan wees (en dalk ook vir ander) nie? Ignoreer gerus my skrywes as u nie daarvan hou nie, of raadpleeg 'n woordeboek en brei u woordeskat uit. So bou ons, en breek nie af nie; hef ons op, en trek nie mekaar af nie.
Praat Saam (PS) was nog altyd vir my 'n almal akkommoderend, leef-en-laat-leef, vrylik toeganklike meningsuitruilende omgewing. In die lig van die besware teen my skrywes laat dit my wonder of daar diegene is wat graag wil toesien dat hul eie selfsugtige behoeftes as norm en maatstaf vir PS sal dien.
En, nee, Marietjie (DB,16.09), ek het nog niks in Kühn se skrywes gelees wat "aanstoot" gee nie. Doem (DB,17.09) se: "Julle gebruik toiletpapier nes ons gewone mense", vind ek wel in swak smaak en aanstootlik. Ons innerlike self word juis weerspieël in ons taalgebruik.
No comments:
Post a Comment