Die dekadente tydsgees word ook deur die "# Must fall"-beweging weerspieël. Corrie Kühn se brief (DB,08.09) suggereer 'n "# Titles must fall" én 'n "# Formality must fall". Op eersgenoemde het ek reeds gereageer (DB,14.09) en wil, sonder enige herhaling, op laasgenoemde reageer.
Kühn merk met genoegdoening "hoe die styfheid en formeelheid...aan die wegsmelt is." Formaliteit is vir hom: "Ag, eina tog!" ; informaliteit: "Lekker!", en "Mevrou Dominee" begin swig voor noemname. So is "Dominee en Dokter ook aan die wankel...Soos dit hoort."
Ek gee Kühn gelyk dat Mevrou Professor Doktor en Mevrou Dominee van vroeër pynlik was vir die Afrikaneroor, maar om nou van die een uiterste na die volgende te beweeg... Indiwiduele norme moet steeds aansluiting vind by bestaande beskawingsnorme; ook vir aanspreekvorme.
Elke persoon se begrensde persoonlike ruimte verdien om gerespekteer te word. Die grense van formele en informele interpersoonlike verhoudings verskil. Moenie formele grense sonder uitnodiging platvloers aggressief oorskry nie. Dié vorm van geweld is onwelkom.
Derrick Fellows (DB,14.09) verwys na regter Goldstone wat reageer het met : "Pardon, but have we met?" op 'n TV-programaanbieder toe dié hom as Richard aangespreek het, 'n goeie voorbeeld van: "Familiarity breeds contempt". Wat 'n verleentheid vir dié aanbieder.
Wees ingelig, gevoelig en respekteer die ongeskrewe spelreëls van aanspreekvorme in, veral, formele kontekste. Hoe ons ander aanspreek, sê iets van ons self. Om 'n dwaas te wees - "Fools rush in where angels fear to tread" - is 'n keuse; nie 'n opdrag nie. Daarom: moenie eerbiedige aanspreekvorme as beskawingsnorm prysgee nie. (ngn)
No comments:
Post a Comment