Monday, 26 March 2012

Kerklike- en geloofsgrense onder druk

"Diep bekommerde ouderling" se skrywe (DB,24.03) plaas die NG Kerk in die kollig. Ons beleef vandag toenemende druk op, verskuiwing en selfs vernietiging van grense, ook in kerklike- en geloofskonteks. 'n Kritieke vraag: Is Christene dan uitgelewer aan 'n onbegrensde kerklike- en geloofslewe? Tog sekerlik nie!

Daar is 'n leraar met die gewoonte om, voordat die erediens begin, na die naweek se rugby-uitslae te verwys en, deur handopsteking, selfs lidmate se spanvoorkeur te toets. Is die vooraf gewydheidsatmosfeer dan nie begrens nie, en oorskrei dié dominee nie dalk dié grens nie? Tydens 'n week van gebed onderwerp 'n leraar lidmate aan die tegniek van "Christelike meditasie" wat aansluiting vind by Oosterse Transendentale Meditasie. Is die Christen se gebed nie ook, "tegnies" gesproke, begrens nie? Het Jesus in Sy gebedsvoorbeelde ons enige "meditasie tegnieke" geleer?

Roberto, bekende panfluitspeler, bied 'n "konsert" aan in 'n kerk. Sy "verhoog" is die liturgiese ruimte voor die preekstoel waar hy sy CD's uitstal en skuins grappe vertel. Is dit nie 'n voorbeeld van grensdruk, -verskuiwing en/of -uitwissing nie? So is daar vele meer voorbeelde van drukuitoefening op grense in dié kerk soos, byvoorbeeld, vergestalt in sommige algemeen-sinodale besluite, asook uitsprake en geskrifte van sommige hedendaagse teoloë. Na beswaarmakende, grensbewakende lidmate word as "fundamentaliste" verwys, en hul besware word "aanstootlike leuens" (Kerkbode,16.03) genoem.

Op grond van watter/wie se gesag word kerklike- en geloofsgrense toenemend onder druk geplaas, verskuif en selfs vernietig? Benodig die Christelike geloof dan géén grensbewakers nie?



No comments:

Post a Comment