Wednesday 28 March 2012

ANC-aanval desperate poging tot verweer

Woordbetekenisse is kontekstueelbepaald, dan nie? Die woord "mis" het telkens 'n ander betekenis in: Die vallei is met mis oordek. Die beeskraal is vol mis. Die doelskop was mis. Die Katolieke hou 'n mis. Ons mis hul teenwoordigheid. Natuurlik besef Christian Martin (DB,26.03) dit, en, hopelik, die ANC ook   -   of dalk juis nie?

Wanneer me. Zille die begrip "vlugteling" gebruik, wend sy dit spesifiek in onderwyskonteks aan en in géén ander konteks nie. Beide Martin en die ANC dra me. Zille se gebruik van "vlugteling" moedswilliglik, en met kwade bedoelinge, oor na die buite-onderwyskontekstuele domein. Waarom? Volgens prof. Amanda Gouws (DB,26.03) gaan dit om rassistiese oorwegings omdat dit vir die ANC "onmiddellik...'n rassevraagstuk geword..." het.

Hoeveel talentvolle landsburgers, veral ons jongmense   -   waaronder ook albei my seuns   -   het nie ook al landuit "gevlug" vanweë regstellende aksie wat vir hulle, hul voortreflike kwalifikasies ten spyt, géén toekomsvooruitsigte bied nie? Is diesulkes nie ook "vlugtelinge" in 'n sosio-ekonomiese konteks nie? Wat sê Martin en die ANC daarvan? Niks! Oor sulke "vlugtelinge" swyg hulle. En sal die ANC dit hoegenaamd oorweeg om ouers te subsideer om hul "vlugteling"-kinders oorsee te kan besoek?  Nooit!

Zille se opmerking is kontekstueel-spesifiek. Aan Martin en die ANC: Bepaal julle by dié konteks   -   onderwys! 'n Vergelyking tussen die Oos-Kaapse (ANC) en die Wes-Kaapse (DA) onderwysadministrasies en -standaarde is vir ANC-mislukkings té pynlik om te aanvaar; vandaar die aanval op Zille. Daarom is dié ANC-aanval 'n desperate poging tot verweer.                






No comments:

Post a Comment