Wednesday 14 March 2012

Lees berig met regte perspektief

Die geskiedenis herhaal ongetwyfeld homself, ook in kerklike konteks. Behorende tot die protestantse kamp, weet NG Kerklidmate van die oorlewingstryd teen Rooms-Katolisisme gedurende die Reformasie-tydperk. Vandag is die NG Kerk gewikkel in 'n soortgelyke   -   dog interne   -    oorlewingstryd wat, voorlopig, die Transformasie-tydperk van dié kerk genoem kan word. Laasgenoemde verkry groter samewerkende momentum met die aanbreek van die "nuwe S.A.".


Die NG Kerk is 'n kerk-in-oorgang, 'n transformerende kerk, 'n paradigmaties-verskuiwende kerk, en, met groot huiwering en ontsag gesê, die potensiaal bevat om in die toekoms bewys te word synde bewegend vanaf 'n Skeppersentriese na 'n skepselsentreerde kerk, soos wat nou reeds blyk uit die standpunte en stellings van teoloë en kerkleiers soos neergepen in hul Bybel-opponerende publikasies en geskrifte.

Die paradigmabegrip leen homself ten beste vir 'n sinoptiese beskrywing van dié kerklike "verskuiwing". Sedert die verskyning van Thomas S.Kuhn se boek, "The Structure of Scientific Revolutions" (1962), verwys hierdie begrip na wetenskapsbeoefening as 'n paradigmaties-kontekstuele aangeleentheid. Teoloë reken hulself ook onder wetenskaplikes. Sommige teoloë kies openlik vir "evolusionêre wetenskapsbeoefening" en verdedig dit, 'n praktyk onderlê deur die "evolusiegeloof" met al die implikasies daarvan vir Woordverkondiging en geloofsuiwerheid.

Dié paradigmaskuif word gekenmerk deur 'n rewolusionêre breuk met die kerklike verlede, vergelykbaar met 'n "bekeringservaring", tref skerp onderskeid tussen die "oue" en die "nuwe", sterk wedywering om dominansie, praat nie meer dieselfde "taal" nie, en is onversoenbaar met mekaar.

Kerklike strukture lig nié lidmate hieromtrent in nie. Ons is daarom op ons self aangewese en moet groot versigtigheid aan die dag lê om nié in ons oordeel die media as enigste inligtingsbron te vertrou nie. Wanneer "Volksblad"(13.03) berig : "NGK-moderator kap na kritici", moet hierdie berig   -   met dr. Louw en prof.Niemandt as protagoniste van, onderskeidelik, die "ou" en die "nuwe" kerklike denkrigtings   -   vanuit 'n paradigmatiese perspektief gelees word.                (ngn)

No comments:

Post a Comment