Tuesday 20 March 2012

Werklikhede geassosieer met dié berig

Teen lamppale, in groot swart letters, staan geskryf: Renosters : "Wêreld moet weet", verwysende na die huidige slagting onder die S.A.-renosterbevolking   -   'n waarneembare wrede werklikheid wat tegelykertyd geassosieerde werklikhede oproep. Nog nooit het ek teen lamppale gelees: Plaasmoorde : "Wêreld moet weet"   -   'n geassosieerde verwante werklikheid. En nêrens nog het ek gevind dat die media, plaaslik òf internasionaal, die plaasmoorde-slagting wêreldkundig maak nie   -   'n tragiese assosiatief-verwante derde werklikheid.

By die lees van die berig, "Stropery op TV gewys / Renosters se pyn verbeeld" (DB,19.03), en beklemtonend "...die grusaamste tot nog toe...", besef 'n mens opnuut die skreiende onreg wat die S.A.-boeregemeenskap   -   wit, bruin, swart   -   aangedoen word deur plaasmoorde, op veel groter skaal as renosterslagtings, te verswyg. Laasgenoemde is immers ménse en nie diere nie.

Vir beide die ANC-regering en die media is renosterstropery baie duidelik 'n veel groter misdaadprioriteit en nuuswaardig as moord op die burgery. Op renosters kan 'n geldwaarde geplaas word; op plaasmense nié. Ryklik geïllustreerde uitbeeldings van renosters se lyding verskyn in die media, maar van die pyn en lyding van plaasbewoners word weinig melding gemaak. Dit dwing ons om, onder meer, te vra: Waarom nie ook rapporteer oor dié werklikhede geassosieer met die aangehaalde berig nie?






No comments:

Post a Comment