Thursday 8 March 2012

Hierin is Jeffreys blatant moedswillig

Ek verskil radikaal van L.Laubscher (DB,08.03) se opmerking: "Dankie, Henry Jeffreys, vir jou nugtere rubriek vandag." Oor jare heen het Jeffreys homself aanwysbaar bewys as negatief-afbrekende kritikus van die wit Afrikanerbeeld in ons kultureel-diverse samelewing. In sy jongste skrywe (DB,07.03) sê Jeffreys: "...ek kan Zuma of die ANC nie in dieselfde geselskap plaas as...Adolf Hitler...Josef Stalin...Mao Zedong of die moorddadige Mobutu Sese Seko en sy vele geesgenote in post-Uhuru-Afrika...of selfs ons eie eertydse Christen-Nasionaliste..." nie. Om hierdie kwaadwillige bewering teenoor Afrikaners te ignoreer, of soos Laubscher daarmee om te gaan, is om Jeffreys kondonerend gelyk te gee.

Wat het kommunisme, Nazisme en Afrika-uhuru met mekaar in gemeen? Ongetwyfeld grootskaalse menseslagtings waarvan meer as 'n honderd miljoen onder kommunisme alleen. Deur sy verwysing na "moorddadige", blyk moord Jeffreys se maatstaf te wees waaraan hy kwaadwilliglik ook "Christen-Nasionaliste" (wit Afrikaners) onderwerp. Jeffreys vergeet gerieflikheidshalwe van die ANC se lakeiskap van kommunisme. (Wys my wie jou vriende is en...)

Anders as Laubscher, maak ek ten sterkste beswaar teen Jeffreys se ongesubstansieerde en korrupte bewering waarby hy wit Afrikaners betrek. Daarmee wys hy sy minagting vir die brose proses van intergroep-verhoudingsbou in S.A. Wat sou hy wil bereik deur sy strieming van nasionale verhoudingsbou? Dit is moeilik om te glo én aanvaar dat iemand soos Jeffreys, wat groter sensiwiteit aan die dag behoort te lê, so blatant moedswillig kan wees.

Tree "Die Burger" dan nie voorkomend op deur artikels voor plasing eers te redigeer nie? Dit kan vertolk word as dat dié dagblad hierdie tipe uitsprake goedkeur en sodoende meewerk om aan sommige lesers aanstoot te gee.              (ngn)




No comments:

Post a Comment