Friday, 25 July 2003

Taal lê al op sy sterfbed

Daar kan beweer word dat Afrikaans as akademiese taal in sommige tersiêre instellings op sy sterfbed lê. Die inkorporering en samesmelting van tersiêre instellings moet die laaste asem uit dié taal wurg.

Synde 'n draer van Afrikaans en in daaglikse kontak met dié stilsterwende taalpasiënt in sy akademiese sterfkamer, geniet ek dieselfde status as dié terminale pasiënt.

Jan Rabie het gesê : "Sonder Afrikaans is ek niks." Sterf my taal as akademiese taal, sterf ek en taalgenootlike kollegas. En nêrens sien ek dat enige trane in eie taalgeledere gestort word nie. Dis blykbaar die bedoeling dat Afrikaans moet sterf.

En dit alles geskied te midde van die betreding van die beloofde land   -   'n land waar ons daagliks gevoer word met menseregtebeloftes. Ons vra : Gee ons vandag ons daaglikse beloftes   -   ook taalbeloftes in taalbeleidvorm   -   maar lei ons tog nie in die versoeking om te wil glo dat enige taalbeleidbelofte geïmplementeer sal word nie.

In die beloofde land is beloftes nie geloofwaardig nie ; ook nie die taalbeleidbeloftes binne tersiêre taalkonteks nie. Wie nog taalore het wat hoor, moet luister na die stilte van ons taal in sommige van ons akademiese instellings en voorbereid wees op die taal-doodsberigte wat ons in die toekoms daaruit te wagte kan wees.