PROF. RUSSEL BOTMAN se vraag "of daar nog plek is vir wit mense en 'n wit kerk in Suid-Afrika" (DB, 13/10) is besonder insiggewend. Hy het dié vraag op die rug van "wit studente wat my daardie vraag vra" die sinodesaal binnegedra.
Omdat hy beskik oor die insigte van 'n hoogleraar, behoort Botman te weet dat hierdie "of daar nog plek is"-vraag nie die dieperliggende, waarheidsoekende wesensvraag is nie, maar wel wat onderliggend aan dié simptomatiese oppervlaksvraag is. Met ander woorde: Watter versweë en onsigbare motief en strategie is hier aan die werk wat wit studente noop om dié vraag te vra?
Binne politieke konteks het die gekombineerde aanslag-tot-oorname-motief en die CRC-strategie (Crisis/Resolution/Change) uitmuntend geslaag.
Gebruik 'n krisissituasie (en as daar nie een is nie, skep dan een) en sorg dan vir 'n "onderhandelde skikking" wat dinge in die motiefbepaalde rigting stuur.
In watter tyd - en tydsgees - is die Belydenis van Belhar gebore? In watter mate adem dit die gees van die bevrydingsteologie? Binne laasgenoemde dampkring kry ons 'n uitspraak soos: "Whenever I look into the eyes of a freedom fighter, I look into the eyes of Jesus Christ." Christus word tot revolusionêre karikatuur van die armes en verdruktes gemaak. Hy word 'n koloniale bevryder en nié Verlosser van 'n leuenlewe, sonde en die dood nie.
Die Christusboodskap is een van uitnodiging en keuse; nie van dwang nie. Van wie se gees getuig 'n kerklike denke wat sigself opdwing aan ander in die vorm van dwanguitoefening sonder keuse?
Uiteindelik gaan dit oor waarheid - en diepdringende waarheidsoekende vrae - want slegs die waarheid kan ons vrymaak. Hierdie waarheid is slegs te vind in die lig van die onvervalste Woord van God en nié in 'n postmodernistiese pseudo-lig wat uitgaan van die "geist satanicus" nie.