DIE historici wat tot die slotsom kom dat ál wat die mens werklik uit die geskiedenis leer -- dat hy hom nié laat leer nie -- het dit insigtelik waarskynlik die verste gebring.
Hiermee bewys hulle die spreekwoord dat 'n donkie nie sy poot twee maal teen dieselfde klip stamp nie as onjuis, want sommiges stamp hul pote meermale teen dieselfde (historiese) klip.
Briewe oor 'n nuwe nasionale identiteit het my aan iets van dié spreekwoordelike pootstampery herinner. Die klip waarteen by herhaling gestamp word, is die Afrikaner-klip.
Dié klip word deur die huidige nasiebouers verwerp, maar het die potensiaal om een van die hoekstene daarvan te word, dog daar word daagliks steeds harder geskree: "Kruisig hom! Kruisig hom!" (die Afrikaner).
Sommige briefskrywers beoordeel die hede as die verkeerde tyd en omstandighede om nou hoog op te gee oor die waarde en belang van Afrikanerskap. Gelukkig het nie almal in die verlede só defaitisties geredeneer nie.
Meer opvallend dalk is die doelmatig-selektiewe en punte-aantekenende omgang met die uiters komplekse en unieke historiese verlede van hierdie land. Dit was nog altyd my indruk dat dit in hoofsaak my Engelssprekende landgenoot is wat gerieflikheidshalwe aan langtermyngeheueverlies ly, en derhalwe niks meer kan (wil) onthou van sy aandeel tussen die jare 1806 en 1948 aan die geskiedenis van die land nie. Dieselfde simptoom van amnesie kom voor by dié briefskrywers wat slegs fokus op "hoe die meederheid van Suid-Afrikaners dink oor die geskiedenis van Afrikaners tussen 1948 en 1994, en die steeds onberekenbare skade . . ."
Vroeg in April 2001 het oudpres. Nelson Mandela 'n toespraak by die KKNK op Oudtshoorn gelewer waaroor Die Burger destyds soos volg gerapporteer het: "Mandela . . . het reeds tydens sy gevangenis periode op Robbeneiland en in Pollsmoor tot die gevolgtrekking gekom dat Afrikaners se vrees dat hulle nie onder 'n swart regering sal kan oorleef nie, een van die belangrikste redes vir apartheid is -- en dat dié vrees gevolglik weggeneem moet word."
Dit wil voorkom asof Mandela meer volledig en waarheidsgetrou omgaan met die Afrikaner se verlede as wat die briefskrywers dit doen.