Thursday, 22 February 2007

'n Ingryping van Bo

Jannie Momberg se brief (DB,15.02.2007) verwys. Hierin beweer hy dat wittes  "sedert 1994 ontsettend goed behandel is."  Ek verskil egter van hom.

Hy vind aansluiting by Henry Jeffreys se rapportering oor sy bywoning van die 150ste bestaansviering van die  Cape Argus  waartydens die Ierse media magnaat, Tony O'Reilly, 'n spreker was (DB,12.02.2007). O'Reilly bewonder Suid-Afrika se  "suksesvolle politieke oorgang"  vanweë  "die keuse wat ons leiers tussen vergelding en versoening gemaak het."

In aansluiting by die voorafgaande vervolg Momberg dat  "so baie wit mense nie die vaagste benul het van die omvang van die versoeningswonderwerk nie" , en dat so baie wit mense voortgaan  "om baie geld te maak onder die 'swart regering' ".

Eerstens blyk géld dié kriterium te wees waaraan Momberg die  "goeie behandeling"  van wittes sedert 1994 meet. Nie net is dit 'n erg skewe aanlê van dié materiële maatstaf nie, maar beslis ook nie die enigste óf belangrikste nie.

Tweedens gaan hy op 'n ongekwalifiseerde en ongedifferensieerd-veralgemenende wyse om met die begrip  "wittes". Wie is die  "wittes"  wat goed behandel word omdat hulle steeds  "baie geld maak"? Dit is beslis nie álle wit Afrikaners nie.

Derdens word die alternatief vir versoening, naamlik vergelding, voorgehou met die versweë implikasie van die bloedbad-alternatief. Indien grondbesit wel op bloed sou berus, behoort 'n aansienlike gedeelte van ons land reeds aan wit Afrikaners, 'n  "transaksie"  voortgesit deur plaasmoorde.

Vierdens word die leiers geloof vir hul keuse van versoening. Maar hóé lyk dié versoening? Vergelding vind plaas onder die verraderlike dekmantel van versoening : 'n twee-in-een-benadering van vergelding-binne-versoening.

Vyfdens is dit 'n vraag óf bloedige vergelding 'n wenopsie vir die ANC was weens die voorafgaande val van die Berlynse Muur, die internasionale mening en die aanwesigheid van 'n sterk wit Afrikaner-element in die destydse polisie en weermag.

Ten slotte stem ek met Momberg saam oor die  "wonderwerk"-gedagte. Oor die vertolking daarvan kan ons dalk van mekaar verskil. Wat my betref, is die  "wonderwerk"  'n ingryping van Bo, 'n onvoltooide wonderwerk wat uitkoms sal bring vir God se kinders in 'n Godnegerende bedeling. Waarom? Omdat ware versoening sigself allereers rig op Hom daarbo.