Prof. Marius Swart en sy vrou, Yvonne, se tragiese dood (DB,17.12.2007), is 'n gevoelige verlies vir die Afrikanervolkslewe in die algemeen en in kultuurkringe in die besonder. Hierdie tragedie konfronteer ons met die feit van ons eie sterflikheid. Wyle C.J.Langenhoven het gesê : Om dood te gaan, is nie 'n kuns nie. Die slegste van ons kry dit goed reg, maar om te lewe, is 'n kuns. Die beste van ons kry dit nie goed reg nie.
Dinge in die alledaagse leefwerklikheid manifesteer hulself in sowel 'n algemene as 'n besondere vorm. Ook die dood manifesteer hom op 'n algemene (universele) en besondere (partikuliere) wyse. Kennis en belewenis van die afsterwe van 'n vreemdeling behoort tot die algemene. Die dood van 'n familielid, vriend of goeie kennis word as besonders ervaar. So is dit ook gesteld met die afsterwe van prof. Swart en sy eggenote.
Sonder om my enigsins aan te matig as besondere vriend of kennis van hom, was daar tóg 'n onsigbare band wat ons gebind het aan 'n raamwerk van oortuigings en as medewerkers aan dieselfde saak. Desgelyks was hy gebind aan vele van sy kultuur- en volksgenote, plaaslik sowel as landswyd. Saam het ons ons - tesame met ander geesgenootlike kollegas - tevergeefs beywer vir die behoud van die Afrikaanse taal aan die voormalige Universiteit van Port Elizabeth. Dié taal het egter verdwyn, maar nié ons geloof in die regverdigheid van die Afrikaanse taalsaak nie.
As my senior akademiese kollega was hy in vele opsigte altyd vir my iemand om na op te sien en 'n ware rolmodel. Betreklik onlangs nog het ek na 'n redevoering van hom kon luister - onwetend dat dit die laaste keer sou wees - by die geleentheid van die restourasie van die graf van 'n jong Republikeinse burger wat tydens die Anglo-Boere-oorlog in hierdie omgewing gesneuwel het. Hy sal beslis gemis word. Ons eer sy nagedagtenis en is dankbaar vir sy bydrae en 'n lewe gekenmerk deur opoffering aan dit waaraan hy passievol geglo het.