Twee hoogs intelligente en selfstandig-denkende bejaarde mense (onderskeidelik 82 en 90 jaar oud) vra my onlangs in afsonderlike gesprekke op dieselfde dag (toevallig?) dieselfde komplekse vraag : Wat word van die Afrikanervolk?
Ek dink nie één van hulle het 'n sodanig beslissende en finale antwoord van my as nie-gesaghebbende verwag as wat hulle eerder hul diepe kommer en kwelvrae met 'n volksgenoot wou deel nie.
Na my oordeel is dit nie net 'n kritieke vraag gerig aan volksgenote nie, maar word dit waarskynlik ook deur meerdere vrae vooraf gegaan soos : Bestaan daar hoegenaamd nog 'n Afrikanervolk en, indien wel, wáár bevind diegene hulle wat hulself nog volksgenote ag? Met die uitsondering van die ouer Afrikanergeslag, vind ek maar weinig verwysings na die volksgedagte in hierdie omgewing. Sodanige verbintenis en / of assosiasie het vir baie 'n verleentheid en irrelevant geword.
Veler senior volkslede sal vir ons sê dat volkswording, -wees en -voortbestaan veel te make het met die samewerking tussen volksouers (gesin), volksonderwysers (skool) en volksleraars (kerk). Vernietig dié innige band tussen hierdie drie, en jy vernietig 'n volk.
In 1972 reeds beweer M.A.S.Grundlingh dat "die huidige geslag jongmense die enigste in die geskiedenis van die mensdom is vir wie die lotgevalle van sy voorgeslagte grotendeels onbenullig skyn te wees." In 1969 het dr. A.L.Kotzé, voormalige Transvaalse direkteur van onderwys, gesê : "Maak 'n kind los van sy gesin, sy kerk en sy volk en hy / sy is 'n kandidaat om enige plek gewaai te word." Profetiese woorde, nie waar nie?
Een sosastiestokkie breek maklik, maar bondel baie stokkies saam en kyk of dit nóg so maklik gebreek kan word! Die Afrikanervolk word tans "ontbondel" en individueel "gebreek".
Dat ons volk wél sal voortbestaan, ongetwyfeld onderworpe aan bepaalde voorwaardes, daarvan bly ek egter oortuig. Dit is net tragies dat so vele van ons bejaarde volksgenote hul oudag wroegend met kwelvrae oor hul volk moet slyt.