Willem Jordaan se Brandpunt (DB, 14.10.2009) verwys. Hierin toon hy hoegenaamd geen begrip vir die eeue-oue drang na vryheid en onafhanklikheid van Afrikaners nie, en wend hy ook geen poging aan om deur die bril van die verskillende "ismes" in ons land na die "isme"-konflikte daarbinne te kyk nie.
Die liberalisme, die kommunisme, swart nasionalisme en Afrikaner-nasionalisme is vier sulke "ismes" waarvan laasgenoemde twee voorbeelde van onderskeibare nasionale aard - nasieskap of volkskap - is. In teenstelling met swart nasionalisme distansieer Afrikaner-nasionalisme sigself ten sterkste van die kommunisme en die liberalisme. Dié "ismes" kan afsonderlik op 'n kontinuum voorgestel word met ekstremisme en apatie as waarskynlike uiterstes van elke sodanige "isme"-kontinuum.
Selfondersoek bring aan die lig dat elkeen homself, eerstens, op 'n bepaalde "isme"-kontinuum en, tweedens, iewers tussen ekstremisme en apatie daarop bevind. Ek plaas Eugene Terre'Blanche aan die ekstreme kant van Afrikaner-nasionalisme. Net so plaas ek Cosatu en Julius Malema aan die ekstreme kant van swart nasionalisme.
Jordaan lê egter die lat van kritiek en verkleinering opsigtelik ongebalanseerd eerder onder die ekstremiste van Afrikaner-nasionalisme as swart nasionalisme in.
Vind Jordaan dit is orde dat die Zoeloe, Xhosa, Sotho, Tswana en Pedi in etniese en stamverband mag voortbestaan en hul identiteite behou, maar nie die Afrikaner in volksverband nie? Indien wel, is Jordaan 'n verduideliking aan die Afrikaners verskuldig.