In sy artikel, "Wie is 'ons' en wie is 'julle' in die reënboog?" (DB,28.12), hou Le Cordeur die rassevlam steeds brandende. Wanneer hy prof. Carstens aanhaal wat sê dis "tyd om eens en vir altyd ontslae te raak van wit, swart, bruin", is dit duidelik dat hy nié die kleureverskeidenheid van die reënboognasie duld nie. En, ironies genoeg, moet 'n reënboog juis sy kleure behou om reënboog te wees, of is sommige besig met 'n bedriegspeletjie?
Om die "ons-julle"-gedagte te probeer vernietig, is 'n onhaalbare droom, nee, nagmerrie. Ontkenning van die universele "ons-julle"- fenomeen is 'n ontkenning van die Godgeskape menslike werklikheid. So is die ontkenning van ras 'n ontkenning van die rassewerklikheid - 'n simptoom van 'n rassepsigose.
Is iemand 'n vrek bloot vanweë sy besparingsbewustheid? Is iemand 'n rassis bloot vanweë sy rasegtheidsbewustheid? Wie gee enigeen die reg om enigeen van rassisme te beskuldig bloot omdat hy sy suiwerheid van ras wil behou?
Dit is die gedagtes wat Le Cordeur by my laat opkom by die lees van sy artikel waarin die reënboog simbolies, saam met die "ons-julle"-gedagte, sentraal figureer.
Wat Le Cordeur vergeet, is dat die reënboogkleure hul oorsprong in wit lig (fisies-opties), soos sonlig, het. Om dié kleurespektrum te vernietig, moet jy daarom wit lig vernietig, 'n absurde idee. Dieselfde geld die menslike rasseverskeidenheid waarop dié beeld betrekking het. Rasseverskeidenheid (kleurespektrum) is Godgeskape (wit lig).
Wat betref die "ons-julle"-gedagte: By geboorte bevind elke mens homself onmiddellik in 'n ek-jy-verhouding met die moeder. Hiervandaan brei dié verhouding uit tot 'n ek-julle-verhouding wanneer die vader, boetie(s), sussie(s) en familielede ook daarby betrek word. Nog later brei dit uit tot 'n ons(gesin)-julle(familie, vriende,ens.)-verhouding. Die ons-julle-verhouding is onontkenbaar deel van menswees.
Hoe lyk die kind- en mensbeskouing van Le Cordeur, opvoedkundedosent, wat die menslike ras wil manipuleer? (ngn)