J.C.Kotzé (DB,29.09) wys op Ahmed Kathrada, struggle-veteraan, se "woedende aanslag op die NGK wat...in 1948 gehelp het om die pro-Nazi, pro-Hitler en rassistiese NP aan bewind te plaas." As Kathrada, waarskynlik 'n nie-Christen, dan so baie van die NGK weet, waarom vertel hy dan nie ook die Nederlanders van dié kerk se huidige transformasie vanaf 'n historiese Afrikaner-volkskerk na 'n inklusiewe nasiekerk nie?
Die NGK - 'n Afrikaner-volkskerk van die ou SA - wil baie graag sy posisie as belangrike rolspeler in die nuwe SA bly behou. Vir dié doel het sy huidige leierskap dan ook besluit op transformasie vanaf dié volkskerk tot 'n nasiekerk, dog sonder om sy lidmate direk daaromtrent in te lig. In 2006 reeds wys prof. R.M.Britz in sy artikel, "Die NGKerk : van volkskerk na nasiekerk", in Waarheid en Dwaling (Nov./Des.2006), op dié kerklike tendens. Hierin sê Britz : "Die nasie het in die plek van die volk geskuif (want) 'n goeie gesig by die nasie tel immers baie punte."
Britz noem 'n voorbeeld. Tydens die NGK se amptelike voorlegging aan die ANC-regering oor die voorgestelde nuwe huwelikswet, is daar géén verwysing na die Bybel óf Christus nie, maar word daarin wel daarop gewys dat die ou huwelikswet vanuit die apartheidsverlede kom en nou, volgens drs. Ben du Toit en Kobus Gerber - NGK-spreekbuise - in pas met die Grondwet gebring moet word. Met die Grondwet in die hand - om dié te handhaaf eerder as die Bybel - wen die NGK sodoende aan relevansie om 'n pleitbesorgende nasiekerk ook vir alle ánder godsdienste te word.
Wanneer teoloog Julian Müller daarop wys dat die NGK "op drie vlakke bekering nodig het - sy spierwit eredienste, gay teoloë en die Belharbelydenis" (DB,26.09) , dan benodig NGK-lidmate geen kristalbal om te weet dat hierdie sake ook mettertyd deur die NG-nasiekerk assimilerend binne dié "nuwe" kerk geabsorbeer gaan word nie.