Soms is daar simboliese parallelle te vind tussen gebeurtenisse wat in ruimte en tyd van mekaar verskil. Aleid van Rhijn se boek: "Die Waters Kom!" - uit Nederlands vertaal - dui op 'n simboliese ooreenkoms tussen die Nederlandse 1953-watersnood en ons eie huidige Suid-Afrikaanse noodsituasie, beide gekenmerk deur onbeheerbare krisis en tragiese verlies.
Op dramaties spannende wyse verhaal Van Rhijn die gebeure van die nag van 31 Januarie op Sondag 1 Februarie 1953 toe talle Nederlandse seedyke tydens springgety meegegee het voor stormsterk windopgeswiep angsaanjaende branders wat die drooggeleg laagliggende polderlandskap met grootskaals tragiese verlies aan lewens en eiendom oorstroom het.
Ek vind die volgende verwysings na dié vloedramp simbolies subtiel toepaslik op die na-1994 Suid-Afrika: "Die nag om twee-uur begin die dorpsklok lui; die alarmteken...Die water op die werf begin geheimsinnige klein golfies maak...Die stygende water dwing die huisinwoners na die solder, en druk hulle uiteindelik teen die dakpanne vas...hulle veg om oorlewing..."
Met weinig verbeelding nodig, merk die geestesoog hoe die daargestelde "dyke" - wat ons samelewingsgemeenskap teen die aanslae van misdaad-, moord-, verkragtings-, bendegeweld-, armoede-, staatskapings- en korrupsiegolwe moet beskerm - onder "dykbreuke" swig en, met tragiese verlies van lewens en eiendom van indiwidue, gemeenskappe en die staat, ons nasionale samelewing oorspoel.
Sedert die Zuma-era het dit "nag" geword en lui Suid-Afrika se "alarmklok" sonder ophou. Saboterende "dykbreuke" onder sy bewind het reeds gelei tot die gedeeltelike oorstroming van ons onderhandelde demokratiese "polderlandskap" met onberekenbare skadeverlies. "Geheimsinnige klein golfies" onder Zuma het reeds aangegroei tot verwoestende branders wat hulself ook teen die "hoofdyk" - ons grondwet - opwerp. Mag ons geregtelike "dyk" egter ferm bly staan en voorkom dat Suid-Afrika in die Zumastorm vergaan.