Die eens trots volwassewordende Afrikanergemeenskap bevind hom op 'n pad van vernietiging. Redes daarvoor is van 'n eksterne sowel as interne aard. Betreffende laasgenoemde rede, werp Flip Swanepoel, vanuit 'n historiese perspektief, in 'n interessante artikel meer lig daarop.
Swanepoel beweer dat die Trekkers, en veral hul nasate, nie die Gelofte van 16 Desember 1838 getrou nagekom het nie. Die gevolg was die verlies van ZAR-onafhanklikheid in 1877 toe Shepstone dié republiek onder Britse vlag geannekseer het.
In Desember 1880 is die Bloedrivier-gelofte hernu, asook 'n nuwe een by Paardekraal deur klipstapeling met God gesluit. Die oorwinning oor die Britte by Majuba in 1881 en daaropvolgende herstel van onafhanklikheid, word vertolk as die resultaat van dié hernude geloftesluiting.Wéér is dié geloftes verwaarloos wat kulmineer het in die verwoestende Tweede Vryheidsoorlog - gelofteverbreking wat sou lei tot strafgerig.
Ook vandag word, lank reeds nie meer, dié geloftes eerbiedig nie. Hedendaagse Afrikaners móét toegee dat hulle hulself ook op 'n pad van selfvernietiging geplaas het, en nie net ander daarvoor moet blameer nie. Waarskynlik is Afrikaners die mense wat die meeste Bybels besit, maar dit nog die minste lees, en daarom nie weet wat in Deuteronomium 23:21-23 geskryf staan nie: "As jy aan die Here jou God 'n gelofte doen, moet jy nie versuim om dit te betaal nie..."
Gesien vanuit 'n historiese perspektief, moet Afrikaners vandag, primêr, selfblaam aanvaar vir die situasie waarin hulle hulself bevind.