In Willemien Brümmer se "Die wiel moet maar net draai" (01.03), verneem lesers van ds. Louis van der Riet, eerste openlike gay NG Kerk-leraar, se onbeskaamde uitdaging aan dié kerk. Ek beperk my reaksie tot sy kerkuitdagende sienings van die huwelik en liefde.
Dié gay dominee vra (sekerlik nie uit Skrifonkunde?) waarom die huwelik alleen tussen 'n man en vrou moet wees. Vir hom is daar, volgens sy teologiese oortuiging, geen goeie rede daarvoor nie. Hy vra uitdagend: "Wie is die kerk in elk geval?" en sê, eweneens uitdagend,: "as ek...iemand vind en ek wil trou, gaan dit gebeur. Ja hier in die kerk." Hierdie uitdaging betrek nie net die kerk nie, maar ook Gods Woord waarin die kerk fundeer is.
Liefde in Skrifkonteks beklemtoon Christene se liefde vir God (agape) asook liefde vir die medemens (filia+eros). Van der Riet sê: "mense wat gay is, is vir my veel belangriker...(en) vir my die essensie van die evangelie." Sy gehoorsaamheid, ingesteldheid, passie en hoop - sê hy - is gesetel in 'n gemeenskap "om mense beter lief te hê." Oor die agape-liefde swyg hy soos die graf.
Van der Riet sê: "Ek hoop nie ek ...moet...konformeer tot die NG Kerk nie." Mag ons vra waarom hy hom dan in dié kerk bevind indien hy weier om die kerkspel volgens kerklik kontekstuele spelreëls te speel? Voorts mag ons ook vra hoe kerkopsieners soos die kerkraad, plaaslike Ring en selfs streeksinode, in terme van ons belydenisskrifte, op dié jong predikant se uitdaging van die kerk reageer? (ngn)