Suid-Afrikaanse dorpstigting is hoofsaaklik die nalatenskap van Europese immigrante en hul nasate, en vertoon 'n patroonmatigheid. Soos boere landinwaarts getrek het, is owerheidsbeheer uitgebrei deur distriksproklamering waarop gemeentestigting, kerkoprigting en onderwys sou volg.
Die hoof onderwysdoel was leer lees en skryf vir direkte Bybeltoegang, katkisasie (boerematriek) en kerklidmaatskap. Kerklike toringspitse - teoloog Christina Landman het daarna verwys as falliese simbole - was landelike bakens.
Voor in die wakis, op die binnelandse trek, was die Bybel. Tussen veeboere, geleidelik ontwikkelende tot 'n volk, en kerk ontstaan 'n kerk-volkverhouding. Vir dié afgesonderde volk word die kerk spoedig 'n volkskerk, veral in die Boererepublieke. Hiervan getuig 'n oorvloed van historiese geskrifte.
Tydens 'n onlangse besoek aan Toks, van Toks en Tjopsfaam, se Oos-Vrystaatse tuisdorp, besoek ek ook die statige ou sandsteenkerk, nou in onbruik, in die middel van die dorp, getuigende van die vervloë kerk-volkvennootskap.
Op dié kerkterrein is duidelike oorblyfsels van volksvoetspore te sien. Monumente ter nagedagtenis van gesneuweldes - vir volk én kerk - tydens die Basoetoe-oorloë en Anglo-Boereoorlog getuig daarvan. Tydens die 1938-Groot Trek Eeufeesvieringe is wa-, trekos- en touleierspore vasgelê in beton met 'n ossewa daarnaas.
Vandag distansieer die kerk sigself van dié historiese verhouding terwyl kompromiemakende transformiste kerkhistoriese reformiste verplaas. Moderne Bybelvertolkings en omstrede besluite bring verdere skeiding. Die vroeëre huis-kerk-skool onderwysvennootskap is tot niet, lidmaattalle daal, gemeentes sluit, kerkgeboue verkoop terwyl kerklosheid en -loosheid toeneem. Stel dit die Kerkhoof tevrede?
Het die moderne kerk dan geen nasionale trooswoord vir siekes en sterwendes tydens Covid-19 nie - wat aan almal geleentheid vir selfondersoek bied; ook vir die kerk - in 'n tyd waarin gesamentlike aanbidding ongewens en selfs strafbaar is?