Die personeel van die New Zealandse (NZ) skool waar my dogter onderwys gee, geïnspireer deur onlangse historiese navorsing, beoog die samestelling van 'n resepteboek. Tradisioneel historiese gebakresepte, vergesel van foto's, word gevra - ook van Suid-Afrika.
Historikus Nigel Robson se navorsing oor NZ se deelname aan die Anglo-Boereoorlog (1899-1902), en die uitwerking daarvan steeds op die NZ-samelewing, laat my kind dink aan resepte uit dié historiese tydperk soos rooster-, vetkoek, potbrood en beskuit.
Robson se navorsing sou lei tot 'n hernieude veldtog om veral geroofde bybels terug te stuur na Suid-Afrika. Soms met, maar meer dikwels sonder, toestemming van hul Briitse offisiere, het soldate plaaswonings geplunder voor die afbranding daarvan.
Veral bybels was gesogte "trofeë" wat na Brittanje, Australië en New Zealand verskeep is. Boere het dikwels waardevolle dokumente, soos testamente, in bybels bewaar. Kan ons ons die ontsteltenis voorstel van 'n oorsese familie wat so 'n bybel ontvang waarvan die afsender intussen al gesneuwel het?
Vanaf 1903 is New Zealanders, asook by verskeie geleenthede daarna, versoek om sulke geroofde bybels na hul eienaars terug te stuur. Heelwat bybels is in NZ-biblioteke uitgestal, soos ook genl. Piet Cronje se bybel in die Britse Laerhuis in Londen. In 1947 het koning George VI wyle president Paul Kruger se bybel aan die Afrikanervolk terug besorg.
Iemand het opgemerk dat Afrikaners verreweg die meeste bybels besit, maar dit vandag die minste lees. Bevat dié oorlogtydse bybeldiefstal dalk 'n boodskap van simboliese betekenis vir kontemporêre Afrikaners?