Die ANC-slagspreuk dat geen normale sport moontlik is binne 'n abnormale samelewing nie, is suksesvol in die verlede gebruik.
Dié slagspreuk blyk ook toepaslik te wees op die onderwysdepartement se voorgestelde taalbeleid vir hoër onderwys. Hoewel dit oënskynlik meriete het, ontbreek dit aan nugtere realisme in minstens een belangrike opsig: die vereiste van taalharmonie tussen die breë samelewing en die tersiêre gemeenskap.
Die lofwaardige ideaal van 'n taalbedeling aan tersiêre inrigtings waar al ons tale, insluitend Afrikaans, 'n gelykwaardige taaltuiste sal vind, klink egter na lippediens binne 'n onhaalbare taalpraktyk - vir so lank as wat die openbare taalgemeenskap, vanweë regeringsinmenging, uitgelewer is aan die onbeskaamde aggressie van verengelsing.
Die Afrikaanse taalruimte moet eers bevry word van die deur staatsgesanksioneerde Engelse taalaggressor binne die makrokonteks van die breë samelewing, alvorens Afrikaans ware vryheid en gelykheid binne die mikrokonteks van 'n tersiêre instelling kan geniet.
Wie hom blind hou vir die voorwaarde van taalharmonie tussen die breë samelewing en die tersiêre gemeenskap, sien 'n woestynlugspieëling illusionêr vir water aan.
Die posisie van Afrikaans buite ons tersiêre instellings moet eers genormaliseer word alvorens normaliseringspogings van ons taal binne dié instellings enige geloofwaardigheid kan geniet.
Dit is nie sonder waardering dat daar van die taalbeleid kennis geneem word nie. Dog, die minister behoort sy kollegas te versoek om hom te help om sy taalbeleid te laat slaag deur ons nasionale tale, waaronder ook Afrikaans, se ondergeskiktheid aan Engels onmiddellik te beëindig. Eers met die normalisering van ons openbare taalgemeenskap buite opvoedingsinstellings kan 'n genormaliseerde taalbedeling daarbinne te wagte wees.