Die gemiddelde Afrikaanssprekende student, dosent en ouer smag, om verskeie redes, na die erkenning én implementering van meertaligheid binne die deur Engels-oorheersde tersiêre taalgemeenskap.
Henry Ford sou glo gesê het dat elkeen geregtig is om die kleur van sy motor te kies mits dit swart is. Geld iets van dié Ford-voorwaarde nie dalk ook wat betref die voorgestelde taalbeleid vir hoër onderwys nie, naamlik : Enige taal is toelaatbaar, mits die student en dosent uiteindelik alles slegs in Engels doen?
Dit kan nie buite rekening gelaat word dat die ministerie van onderwys met sy voorgestelde meertaligheidsbeleid vir hoër onderwys "gepaarde" tweetaligheid as die oplossing sien nie. Etlike van hierdie "tweetaligheidspare" binne 'n tersiêre instelling sou ongetwyfeld uitdrukking gee aan die beleid van meertaligheid.
Tweetaligheidspare ontstaan deur elke nie-Engelse taal met Engels "af te paar" : Afrikaans met Engels, Xhosa met Engels, Zoeloe met Engels, en so voorts. Elkeen van hierdie tale word aan Engels gekoppel om mettertyd hul selfstandigheid prys te gee.
En die doel hiervan? Die antwoord is: Om "oorgangstweetaligheid" te bewerkstellig sodat die finale oorgang vanaf die moedertaal na Engels as die nasionale voorkeurtaal en transformasietaal - taaleenwording in diens van nasiebou - gemaak kan word.
Baie eenvoudig en nie onreëlmatig nie, nie waar nie? En hoe moeilik gaan dit wees om, wanneer dié transformatiewe taaloorgang na die nasionale voorkeurtaal eers gemaak is, studente permanent van hul moedertaal te vervreem?
Word dié taalbeleid nie dalk geskoei op die lees van die Ford-voorwaarde nie? Dit kan nie ontken word dat die meertaligheidsbeleid inherent die potensiaal bevat om in 'n taaltruuk aangewend te word vir taaleenwording en die Angliserende nasionalisering van die tersiêre taalgemeenskap nie. Binne die ideologiese magspel van ons dag lyk dit na 'n baie sterk moontlikheid.