Dit verg geen apokaliptiese visioen van 'n Nostradamus of 'n Siener van Rensburg om te begryp waarom Afrikaans moet sterf nie.
Reeds sedert 1795, met die koms van die imperialisties-gedrewe Engelse taal na die Kaap, was die Afrikaanse taalfetus, ontwikkelend in die baarmoeder van die Nederlandse taalmoeder, bestem vir vernietiging. Die koloniale gesindheid teenoor taalmoeder en taalkind was: "If you can't speak it, kill it."
Die Britse ryksbouers sou hul koloniale ryk ook op taalholisme vestig. Aan ywerige taal- en volksmoordenaars soos die Somersets, Milners en Kitcheners het dit Brittanje nie ontbreek nie.
Bekoor deur Britse imperialisme, en bekeer tot die holistiese filosofie, sou verraad vanuit eie geledere teenoor volk en taal nie uitbly nie. Die gepropageerde versoening met die vyand moes ten koste van taal en volk geskied.
Vandag neem die voortgesette vernietigingsaanslag globale afmetings aan en kan dit deur die multikulturalisme, assimilasionisme en liberalisme teruggespoor word na die humanisme as Skeppernegerende en skepsel-vererende denkraamwerk.
As 'n oorwegend transenderende reformasietaal - en nie 'n transformasietaal nie - is die psige en aura van Afrikaans veel meer kansel-, onderwys- en volksgeoriënteer as geld- en wêreldmag-georiënteer. Waar die hart van vol is, loop die mond van oor.
Die gedyende globale dorp duld nie tale, soos Afrikaans, wat nie konformerend teenoor globalisering staan nie. Eentaligheid is 'n kragtige gelykmakingsagent. Taalmonopolie lei tot denkmonopolie, en dié twee saam tot beheer oor die manipulering van die getransformeerde bewussynslewe.
Omdat Afrikaans die taal-, denk- en bewussynstransformering van die globale dorp in die weg staan en vertraag, het dit nie plek in die nuwe Suid-Afrika nie. Daarom moet dié taal sterf.
No comments:
Post a Comment