IEMAND het gesê: "Die tragedie van ons wêreld is dat mense nie weet wat (en dat) hulle nie weet nie, en hoe minder hulle weet, hoe sekerder is hulle dat hulle wel alles weet."
Met die lees van Nandie Bahlmann se brief (Brieweblad, 17/4) het bogenoemde my getref: Die tragedie om, begryplikerwys, nie te weet nie; die tragiek waardeur ons almal - ek inkluis - gekenmerk word, want sien, daar is kennis, maar ook "kennis-as-wete".
Om oor ongetoetste kennis te beskik, beteken nie noodwendig om te weet nie; so simplisties is kennis nie. 'n Voorbeeld is die antiek-Griekse denkdwaling van: "Kennis van die goeie lei tot die doen van die goeie." Met ander woorde, vertel kinders ook alles van vreemde godsdienste en dit sal hul eie geloof nie beïnvloed nie.
Kennis is iets waarmee ons iets kan doen, maar kennis is ook iets wat met ons iets kan doen.
Elke gegenereerde kennissoort het 'n bron of oorsprong sowel as 'n doel of bestemming. Geen kennisblootstelling is neutraal en sonder 'n risiko-element nie. Daarom word daar onder meer op 'n kennisgedifferensieerde wyse met skoolgaande kinders in hul ontwikkelingsgang gehandel volgens 'n beplande kurrikulum - synde geag as waardevolle kennis- en leerinhoud - geweeg aan die hand van 'n bepaalde waardestelsel en voorgeskryf deur 'n besondere geloofs- of ideologiese oortuigingsraamwerk.
Kennis is daarom nie so "onskuldig en onskadelik" as wat dit vir die persoon sonder insigtelike kennis dalk mag voorkom nie.
In ons kritiek op die besware van Christene wat gekant is teen onderrig in 'n godsdiensteverskeidenheid, behoort ons te onderskei tussen wat die Christen-verbondskind met kennis van verskillende godsdienste kan doen en wat sodanige kennis aan die kind kan doen - en albei dan volgens Skrifbeginsels, en nie sinkretisties nie, teenoor mekaar opweeg.