Daar is 'n simboliese ooreenkoms tussen die Brits-Amerikaanse koalisiemagte se verowering van Irak in die tweede Golfoorlog en die transformerende koalisiemagte in ons land. Irak is verslaan, Bagdad verower en Saddam Hoesein se standbeeld omgegooi. Plaaslik is soveel reeds onomkeerbaar getransformeer.
Ook ons reformatoriese geloofsbeeld, die Christusbeeld, moet val deur middel van 'n getransformeerde godsdiensbeleid vir skole. Steek ons die hand in eie boesem, kan ons nie die gesamentlike koalisiemagte van sowel die vorige as die huidige regering in die voorbereiding van ons Christelike geloofsbeeld se val ontken nie.
In 1982 het die Afrikaanse Ouervereniging vir Christelike opvoeding en onderwys (AOV) tot stand gekom. Op 22 April 1984 het die "vader" van dié vereniging, dr. S.J.Eloff, predikant in diens van die Algemene Sinode van die NG Kerk, met opdrag opvoeding en onderwys, my meegedeel dat die gesindheid in regeringskringe jeens die AOV een was van : "Indien ons dit nie (polities) kan beheer nie, moet ons dit vernietig." Dit ís vernietig!
Sensusopnames toon dat die meeste landsburgers Christene is, maar die Christelike fondament van die vorige grondwet is by Kodesa deur onderhandeling vernietig. Aan die vooraand van die referendum wat op dié onderhandelinge gevolg het, het mnr. F.W. de Klerk 'n beroep op kiesers gedoen om "ja" te stem. Hy het daarop gewys dat die oorgrote meerderheid van die land se inwoners Christene is en dat ons derhalwe nie anders kan as om 'n Christelike regering te kry nie - na my mening was dit politieke uitbuiting van die Christelike geloofsentiment.
Leerlinge van die Hoërskool Despatch het nou in die strate gestap om openlik hul teenkanting teen die voorgestelde godsdiensbeleid vir skole te demonstreer (DB,11.04.2003), want die ouerhuis, skole, gemeentes en gemeenskappe swyg terwyl ons Christenjeug in 'n koalisie-oorlog gewikkel is om geloofsoorlewing.
No comments:
Post a Comment