Die verskerpte aanslag teen Afrikaans is geen toeval nie. Watter doelgerigte motief dien as dryfkrag in die geteikende vernietiging daarvan?
Engelstaliges was en is vyand nommer een van ons taal. Anne Pakir, 'n Singapoerse taalkundige, beskryf Engels as 'n "killer language". Daarbenewens beweer Ngugi wa T'hiongo, 'n Keniaanse skrywer, dat Engels "on the graveyard of other people's languages" floreer.
Deur te onderskei tussen 'n taal en sy gebruikers, blyk dit duidelik dat dit die gebruikers van Engels is wat dié taal aanwend as 'n "killer language" - ook wat Afrikaans betref.
Afrikaans blyk kontekstueel afhanklik van Engels te wees, byvoorbeeld binne die internasionale ekonomiese en handels- en sakekonteks. Sodanige kontekstueelbepaalde taalafhanklikheid beteken egter nie 'n taalonderhorigheid nie. En derhalwe is daar nie 'n legitieme rede om Afrikaanstaliges en kontekstueelbepaalde taalafhanklikheid uit te buit, en daarom die Engelse taalvlag annekserend te kan plant binne die ruimte van die Afrikaanstaliges se soewereine taalgebied nie.
Voorgenoemde is juis aan die orde van die dag en taaluitbuiting deur Engelstaliges - en hul gedienstige Afrikaanse taalmeelopers - vind plaas. Hierdie opportunistiese besetting van die Afrikaanse taalruimte kan beskou word as 'n vorm van imperialistiese taalaggressie.
Hierdie Engelse taalimperialistiese motief het, willens en wetens, as teiken die vernietiging van die Afrikaanse denkwyse met as kern die Calvinisties-Protestantse Christelike bewussynsingesteldheid - ten einde dit te vervang deur die sinkretisties-georiënteerde sekulêre humanisme waarvan die Engelse taal by uitstek die draer geword het.
Dié berekende aanslag teen ons taal is derhalwe gerig teen die kern van ons gees om, deur die afbinding van ons geestelike naelstring, ons uiteindelik in geestelike bankrotskap te laat verval.
No comments:
Post a Comment