Thursday, 19 May 2005

Staak die verdagmaking

VERDAGMAKING, waar een persoon oortree en die saak doelbewus sodanig hanteer word dat almal uiteindelik as verdagtes onder verdenking kom, moet as 'n onaanvaarbare en inkriminerende praktyk beskou word. Dit is 'n praktyk wat sekerlik ook die menswaardigheid van die onskuldiges kan aantas. Ek kry, vanweë my blootstelling aan die media, die indruk dat die (selfaangestelde) agente van transformasie ook in die gedaante van rassismedrywers as sub-agente daartoe optree. Rassismedrywers maak uitstekend gebruik van die strategie van verdagmaking. Die slagspreuk: "An injury to one is an injury to all" word omgekeerd strategies puik aangewend tot "Injure one and you injure all", wanneer jy jou vyand wil bykom. Vang een skuldige en brandmerk ook die onskuldiges.

Dink aan die verdagmaking rondom kritieklewering. Krities wees is deel van menswees. Vooruitgang daarsonder is haas onmoontlik. Kritiek uit wit oord op die regering of op gekleurde mense word verdoemend afgemaak as rassisme. Is kritieklewering wat van 'n kontekstueel-spesifiek geregverdigde en dringende aard getuig en wat betyds teen agteruitgang en verval wil waarsku, ekwivalent aan rassisme? Vir die rassisme-drywer blyk kritiek sinoniem met rassisme te wees.

Dink vervolgens aan regstellende aksie as synde van 'n positief-diskriminerende aard te wees. Kan diskriminasie ooit positief wees? Kan rassisme sigself manifesteer in diskriminasie? Ek dink dit kan. Deur die gedagtelyn te volg, sou jy kon sê dat, omdat diskriminasie positief kan wees (as dit my pas) en diskriminasie en rassisme raakvlakke toon, daarom kan rassisme ook positief wees (as dit my pas). Wie maak ras tot vertrekpunt? Is dit nie 'n absurde en bedenklike redenasie nie? Waarom? Omdat die moedergedagte van "positiewe diskriminasie" geboorte gee aan 'n gedagtekind soos "positiewe rassisme" (as dit my pas).

Het die tyd nie aangebreek dat die rassisme-drywers ontmasker word vir dit wat hulle nié is nie? Dat hulle nie aanspraak kan maak op die status van konstruktiewe "samelewingsingenieurs" nie? Dalk kan ons iets by Langenhoven leer wat gesê het : As die kortpad (beskuldiging en verdagmaking) die veilige pad was, dan het die hoofpad (oplossings) daarlangs geloop.

'n Aangeleentheid waaraan rassisme-drywers aandag behoort te skenk, is die vraag of ongesubstansieerde bewerings en beskuldigings van rassisme teen enige landsburger, of groep van landsburgers, nie dalk as 'n vorm van teistering (harassment) vertolk kan word nie. Indien wel, kan die rolle van aanklaer en aangeklaagde dalk nog omruil.

Thursday, 5 May 2005

Wie is Afrikaner-rassiste?

VIR prof. Willie Esterhuyse (Brieweblad, 29/4) gaan dit nie in hoofsaak om Afrikaner-identiteit nie, maar wel, indien ek hom reg verstaan, om sy aanklag teen Afrikaners se rassisme wat die "saak van Afrikaans beduiwel".

Om alleen te fokus op 'n olifantslurp en verby die res van die groteske dier te kyk, is om doelbewus, volgens 'n eng perspektief, die groter geheel onbeduidend te ag. Die groter saak waarom dit hier gaan, waarvan taal onteenseglik 'n allerbelangrike komponent uitmaak, is by uitstek juis die kwessie van (Afrikaner-)identiteit  - 'n debat waaraan hy "nie baie aandag gee nie".

Die begrip "Afrikaner" is 'n uiters komplekse, verweefde begrip, en soveel te meer nog die begrip "Afrikaner-identiteit". Wie ook al hom aan hierdie begrippe wil waag, moet weet dat hy hom nie aan intraparadigmatiese vooroordeel skuldig mag maak nie, maar dat dit eerstehandse kennis "van binne-uit" verg aangaande wie en wat 'n/die Afrikaner is. Eers wanneer hierdie verstrengeld-verweefde begrip betekenisvol en sinvol uitgeklaar is, kan daar tot insigte aangaande die identiteit van 'n/die Afrikaner gekom word.

Dit tref my dat die professor hom uitspreek oor die rassisme van Afrikaners sonder om die diversiteit van hul potensiële identiteitsamestelling in ag te neem. Kan dit wees dat hy met die begrip "Afrikaner" omgaan op 'n simplisties-monistiese en veralgemenende wyse, terwyl dit in wese van 'n kompleks-pluralistiese en nie-veralgemeenbare aard blyk te wees?

Ons kan nie langer volstaan met 'n eng en veralgemenende inhoudgewing aan die begrippe "Afrikaner" en "Afrikaner-identiteit" nie. Diegene wat hulself, histories gesien, eksklusief as Afrikaners beskou het, behoort hulself nou kwalifiserend as Euro-Afrikaners te sien  - soos wat die Negers in die VSA na hulself as Afro-Amerikaners verwys, en daarmee te kenne wil gee dat hulle slegs een tipe van Amerikaner verteenwoordig.

Die Euro-Afrikaners, tot wie ek behoort, is slegs één Afrikanertipe. Daar is nog ander tipes (en subtipes) van Afrikaners ook. Die gevolgtrekking waartoe ek kom, is dat daar sprake is van 'n tipologie van Afrikaners waarvan elkeen wag om in eie reg en deur sigself  - en nie iemand van buite nie  -  geïdentifiseer, gekwalifiseer en ingebind te word onder die sambreelterm van "Afrikaner".

Die vraag aan Esterhuyse (teen die agtergrond van so 'n Afrikanertipologie) is: Op wie het sy beskuldiging van rassisme betrekking  - op alle Afrikanertipes, sonder uitsondering, of spreek hy eintlik maar net die Euro-Afrikaners aan?