Tuesday 24 April 2007

Wie moet Botman help?

Jannie Momberg se brief,  "Hou Botman se arms omhoog" (DB,21.04.2007), verwys. Hy vra almal om  "Botman se arms omhoog (te hou) pleks van hom agter sy rug te beskinder."

'n Mens wonder oor dié armsomhooghou-versoek van Momberg. Waarom? En laat die US-rektor hom dit welgeval?

Die simboliek kan verwys na 'n strydscenario met 'n uitkoms van wen óf verloor. Dit herinner aan Moses (Eksodus 17:8-16) wie se arms deur Aäron en Hur omhoog gehou moes word as voorwaarde vir Israel se oorwinning teen Amalek.

Indien Momberg se oproep Botman dus midde-in 'n strydsituasie plaas, beteken dit dat die rektor dié stryd nie durf verloor nie ; verloor hy, verloor  "regstellende" , transformatiewe ANC-denke.So wie kan die armomhooghouers wees ánders as ANC-ondersteuners en  -simpatiseerders?

Momberg mag dit as teleurstellend ervaar dat nie almal ANC-handperde is nie. Vir baie US-alumni is dié inrigting 'n baken op die pad van Afrikaner-volkswording. Die verlies van die US is derhalwe traumaties. Diegene wat hulself nie Afrikaners ag nie, sal dié verlies nooit kan begryp nie.

Momberg vind dit besielend dat Botman in sy inhuldigingsrede gesê het dat hy die taak het om van die US  "'n volledige multikulturele plek te maak ; 'n tuiste vir almal" . Sodoende "sal Stellenbosch uiteindelik aan almal behoort."  Hiervoor stel Momberg selfs 'n parallelmedium-taalbeleid voor. Terwyl hiermee waarskynlik vrede gemaak kan word, is die vraag aan Momberg egter : Waarom moet die US sy unieke karakter opofferend prysgee ten einde  "'n tuiste vir almal"  te wees wat  "aan almal behoort", terwyl dieselfde vereistes nié aan ons swart en Engelstalige universiteite gestel word nie? Dit is mos blatante diskriminasie sowel as, onder meer, karakter- , identiteits- en volksroof.

Dit is elkeen se reg om die ontwikkeling aan die US as 'n wensituasie te ervaar ; net so is dit ook elkeen se reg om dit as 'n verloor-  of verliessituasie te beleef. Vanuit ANC-dampkring sal die wenbelewenis nie bevraagteken word nie ; die verlieservaring wel.

Vir my beteken die pro-eie gedagte nié om anti-ander te wees nie ; net jammer dat so baie van ons 'n anti-eie gesindheid openbaar.

No comments:

Post a Comment