Thursday, 21 August 2008

Briewe gaan oor volk, nie identiteit

Stef Delport se skrywe,  "Afrikaners het verskeie identiteite" (DB,18.08.2008), het betrekking. Reaksie op my brief,  "Historici moet help sê wie Afrikaner is" (DB,05.08.2008), was te wagte, omdat die briefopskrif (met die klem op Afrikaner)   -   en nie deur myself gekies nie   -   nie korreleer met die inhoud van die brief (wat handel oor die Afrikaner as 'n volk) nie.

Ek respekteer Delport se persoonlike standpunt en definisie van 'n Afrikaner, dog dit sluit hoegenaamd nie aan by die inhoud van my skrywe van 05.08.2008 waarop hy reageer nie. Lees wéér my brief van 05.08.2008 en besef dan dat dit nié daarin gaan oor Afrikaner-identiteit nie, maar wel oor die Afrikanervolk. Daar is, hoewel verwant, 'n verskil in betekenis tussen die begrippe  "identiteit"  en  "volk".

Gemelde brief van my was in antwoord op generaal Muller se vraag : "Het Afrikanervolk ooit bestaan?", (DB,02.08.2008). Muller vra dié vraag na aanleiding van my skrywe,  "Wat word van die Afrikanervolk?" (DB,29.07.2008). Die vertrekpunt én fokus van my eie, asook Muller, se skrywes, was  "volk"  en nié  "identiteit"  nie.

Friday, 8 August 2008

Is Belharbelydenis godslasterlik?

Volgens die Bybel is dit godslasterlik om te kenne te gee, of te insinueer, dat jy God is. Jesus is van godslastering beskuldig omdat Hy gesê het: "Ek en die Vader is een." (Johannes 10:30,33) en: "Mens, jou sondes is jou vergewe." (Lukas 5:20,21)

Die Belharbelydenis verklaar: "Ons glo...dat geskeidenheid...tussen mense en mensegroepe sonde is...dat 'n weiering om sigbare eenheid...na te jaag, sonde is." Johannes 17:20,23 dien as gewaande Skrifbewys hiervoor.

Ek lees niks van sónde hierin nie; wel van eenheid, maar beslis nie opportunisties-eensydig vertolk as "sigbare eenheid" nie, maar wel volgens 1 Korintiërs 6:17 wat sê: "Wie hom met die Here verenig, is geestelik een met Hom."

Indien 'n persoon of instansie dus sê wát sonde is, moet dit tog geskied op grond van 'n sondemaatstaf. Daar bestaan slegs 'n enkele sondemaatstaf, en dit is die Woord van God. Enigeen wat sigself aanmatig tot self-geïnisieerde, insinuerende sonde-uitsprake van buite, of inlees in, die Woord, gee daarmee te kenne dat hy God-speel, en is derhalwe skuldig aan godslastering.

In die Begeleidende Brief by die Belydenis van Belhar word gesê: "Ons spreek hierdie belydenis uit teen 'n valse leer...wat die Evangelie self in ons Kerk en land bedreig...en...dat vele...daardeur gekondisioneer is" en, daarom, "halwe waarheid leer glo het as die volle waarheid."

Die ken van "volle waarheid" is uitsluitlik 'n Goddelik-unieke eienskap, want Jesus is "die weg en die waarheid en die lewe" (Johannes 14:6). Die mens ken waarheid slegs maar gedeeltelik (1 Korintiërs 13:12b). Wanneer die Belharbelydenis dus 'n "valse leer" herken, wat op 'n "halwe waarheid" gebou is, omdat hyself oor 'n "ware leer" beskik wat, by implikasie, op "volle waarheid" berus, dan is dit ongetwyfeld 'n toekenning van 'n Goddelik-unieke eienskap aan homself.

In die lig van die voorafgaande lyk die Belharbelydenis se sonde-  en waarheidsmaatstaf godslasterlik verdag.                                        (ngn)

Tuesday, 5 August 2008

Distansieer van teologie-tipe

Sonder om Angus Buchan, bekend vir die merkwaardig Christelik-geestelike herlewing wat tans onder sy leiding geskied, by die naam te noem, loods prof. Julian Müller in sy artikel, "Beleef ons 'n godsdienstige verdonkering?" (DB BY 02.08.2008), 'n subtiel-verdagmakende aanval op Buchan.

In sy slotparagraaf sê Müller skaamteloos-blatant: "Ons moet...onderskei...en die moed...hê om...goedkoop godsdienstige propaganda te verwerp en mense daarteen te waarsku." Müller is korrek met sy waarskuwende gedagte, maar dan wel dat Christene dringend teen Müller se eie bepaalde teologiese denke gewaarsku behoort te word.

Enkele voorbeelde uit sy teologiese denkraamwerk: Hy sê: "Dit gaan alles ten diepste oor die verhouding tussen geloof en verstand." Vreemd egter dat my Bybel ten diepste verwys na ons verhouding met God en Sy Seun onder die leiding van die Heilige Gees.

Müller beweer "wetenskaplike teorieë...(het) mense gehelp om nie...slagoffers van godsdienstige manipuleerders te wees nie." Gedeeltelik weer korrek, dog Kolossense 2:8 waarsku ons ook om teen teorieë en argumente te waak wat ons van Hom weglei (deur misleiding soos dié van Müller).

Hy sê deur middel van navorsing is ontdek "dat verskynsels wat in die Bybelse tyd aan duiwelbesetenheid toegeskryf is...siekteverskynsels is waarvoor medikasie 'n oplossing bied." Weer eens gedeeeltelik waar, dog die Bybel word subtiel verdag gemaak en die Goddelike Almag negeer.

Müller konstateer: "Natuurrampe...is gewone natuurverskynsels en nie die straf van God nie", 'n goeie voorbeeld van hoedat hy die Skepper en die skepping dualisties van mekaar skei en die Skepper as onbetrokke by Sy skepping projekteer.

Müller ontmasker homself as evolusionêr ingestel met die stelling: "Ewolusie staan nie in kontras met die skeppingsverhale van Genesis nie"  en  "kan die gelowige nou dankbaar wees oor argeologiese ontdekkings wat nuwe lig werp op miljoene jare van ewolusionêre ontwikkeling."

Ten slotte betoog Müller: "Ons het opnuut 'n behoefte aan bevryding van bygeloof." Hy beskryf bygeloof as "naïewe, kinderlike geloof." Ek distansieer my beslis volkome van Müller se tipe van teologie.    (ngn)


Historici moet help sê wie Afrikaner is

Die vraag in generaal Muller se brief,  "Het Afrikanervolk ooit bestaan?" (DB,02.08.2008), het betrekking.

My oupa, 'n burger van die Republiek van die Oranje Vrystaat, was op kommando tydens die Anglo-Boereoorlog (ABO). Hy is gevange geneem en verban na Diyatalawa in Ceylon, vandag bekend as Sri Lanka. By sy tuiskoms, saam met andere, het hy vir twee sjielings en ses pennies per dag met 'n pik en graaf aan paaie moes werk omdat plase deur die Engelse verniel was.

My pa is tussen  1902  en  1910  in die Oranjerivier-kolonie as Britse onderdaan gebore. Ek is in die Kaapprovinsie in die Unie van Suid-Afrika gebore. Vyf geslagte is gebore tydens vyf verskillende staatkundige bedelings. Waar plaas dit my, my kinders en kleinkind wat betref ons volksgenootlikheid? Is ons lede van die Boerevolk of die Afrikanervolk?

In Kaapland en die Tweede Vryheidsoorlog (1937), beskryf C.J.Scheepers Strydom die besondere aandeel van  "koloniale"  Afrikaners aan die ABO. In  So het hulle gesterf! Laaste ure van diegene oor wie die doodsvonnis in die Kaapkolonie uitgespreek en voltrek is gedurende die oorlog van 1899-1902 (1940), versamel deur G.Jordaan, word die verhale vertel van hulle wat in dié kolonie tereggestel is weens hul ondersteuning van hul volksgenote in die Boere-republieke.

Wyle Jopie Fourie het kort voor sy teregstelling op Sondagoggend  20 Desember 1914 gesê : "Moet my tog nie in my gesig skiet nie. Ek het 'n groot Afrikanerhart, daar is genoeg plek om my te skiet."

Alhoewel woorde en hul betekenisse geweldig belangrik is en sowel kan insluit as uitsluit, dink ek tog die begrip Afrikanervolk is meer inklusief om ook volksgenote buite die grense van die toenmalige Boere-republieke in te sluit. Wat van Boere-Afrikanervolk? Historici, help tog!

Sunday, 3 August 2008

Staan Boesak voor 'n keuse?

Die Bybel leer ons dat Judas sy Meester verraai het, maar kan 'n meester ook sy volgeling(e) verraai? Dit wil
tog voorkom asof dit die geval is wat betref dr. Boesak en sy ANC-meester(s).

In die artikel, "Boesak pak ANC oor ras" (DB,01.08.2008), verskyn 'n foto van 'n glimlaggende Boesak met gebalde vuis omhoog, die swartmagteken as saluut aan die aanwesiges. Agter dié glimlag skuil egter skerp kritiek teen sy ANC-meester(s) toe hy die Ashley Kriel-gedenklesing aan die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) waargeneem het en Boesak "gevra (het) dat die regering die belofte van nie-rassigheid begin gestand doen." Sy toespraak het "dikwels die grense tussen politieke vergadering en gedenklesing uitgedaag" en "Mcebisi Skwatsha, Wes-kaapse sekretaris-generaal van die ANC, het die saal verlaat tydens die toespraak."

In 'n striemende aanval op ANC-politiek, waarin hy verwys het na "siniese politiek",  "arrogansie van magshebbers"  en  "skaamtelose verwaarlosing van die massas", kom Boesak tot die belangrike gevolgtrekking dat "dit lyk of ons ons misgis het." Erken hy hiermee dat bruin mense ontnugter is en nié regtig die vrugte pluk van hul deelname aan die voor-1994 rewolusie nie?

Dit blyk 'n fase te wees in die lewe van die bruin gemeenskap waartydens hulle hul entoesiastiese steun aan "teoretiese" pre-1994 rewolusionêre slagspreuke moet beoordeel aan die hand van die "praktyk" van die post-1994 samelewing soos deur die ANC gerealiseer.

Ek twyfel of Boesak ooit die held sal word van diegene wat hom slegs doeldienlik wil manipuleer om 'n hansie-my-kneg rol te vervul. Waarom hom nie eerder skaar by sy eie mense en só na "hoër grond" streef deur hom te beywer vir hul algehele opheffing buite die politiek soos wat die Bruin Belange Inisiatief (BBI) beoog nie? Kan die ANC vertrou word met die bevordering van die belange van mense ánders as swart elitisme en nepotisme? Hierdie keuse is Boesak s'n.                (ngn)