Friday 8 August 2008

Is Belharbelydenis godslasterlik?

Volgens die Bybel is dit godslasterlik om te kenne te gee, of te insinueer, dat jy God is. Jesus is van godslastering beskuldig omdat Hy gesê het: "Ek en die Vader is een." (Johannes 10:30,33) en: "Mens, jou sondes is jou vergewe." (Lukas 5:20,21)

Die Belharbelydenis verklaar: "Ons glo...dat geskeidenheid...tussen mense en mensegroepe sonde is...dat 'n weiering om sigbare eenheid...na te jaag, sonde is." Johannes 17:20,23 dien as gewaande Skrifbewys hiervoor.

Ek lees niks van sónde hierin nie; wel van eenheid, maar beslis nie opportunisties-eensydig vertolk as "sigbare eenheid" nie, maar wel volgens 1 Korintiërs 6:17 wat sê: "Wie hom met die Here verenig, is geestelik een met Hom."

Indien 'n persoon of instansie dus sê wát sonde is, moet dit tog geskied op grond van 'n sondemaatstaf. Daar bestaan slegs 'n enkele sondemaatstaf, en dit is die Woord van God. Enigeen wat sigself aanmatig tot self-geïnisieerde, insinuerende sonde-uitsprake van buite, of inlees in, die Woord, gee daarmee te kenne dat hy God-speel, en is derhalwe skuldig aan godslastering.

In die Begeleidende Brief by die Belydenis van Belhar word gesê: "Ons spreek hierdie belydenis uit teen 'n valse leer...wat die Evangelie self in ons Kerk en land bedreig...en...dat vele...daardeur gekondisioneer is" en, daarom, "halwe waarheid leer glo het as die volle waarheid."

Die ken van "volle waarheid" is uitsluitlik 'n Goddelik-unieke eienskap, want Jesus is "die weg en die waarheid en die lewe" (Johannes 14:6). Die mens ken waarheid slegs maar gedeeltelik (1 Korintiërs 13:12b). Wanneer die Belharbelydenis dus 'n "valse leer" herken, wat op 'n "halwe waarheid" gebou is, omdat hyself oor 'n "ware leer" beskik wat, by implikasie, op "volle waarheid" berus, dan is dit ongetwyfeld 'n toekenning van 'n Goddelik-unieke eienskap aan homself.

In die lig van die voorafgaande lyk die Belharbelydenis se sonde-  en waarheidsmaatstaf godslasterlik verdag.                                        (ngn)

No comments:

Post a Comment