Christo van Heerden is geregtig op sy mening soos verwoord in sy brief, "Skrikwekkende vrug van apartheid" (DB,04.11.2008). Sy beskuldigende kritiek daarin teen die NG Kerk lyk egter oorvereenvoudigd en ondeurdag te wees.
Van Heerden sê : "Die volksteologie/ideologie wat 'n bloedbad in SA veroorsaak het, is deur die NG Kerk toegelaat om te gedy..." en "die leuen...dat kommunisme swart was...wat die kerk beskerm het..." Hy eindig met : "...die boosheid wat julle (Vorsters en Breitenbachs se) teologie besig was om op ons los te laat..."
Ek verdedig nie die NG Kerk nie ; ek verdedig bloot die behoud en voortbestaan van die Christelike geloof in sy onaangetaste, suiwere vorm.
Van Heerden werk opsigtelik met 'n uiters gebrekkige kennisraamwerk van die geloofsbedreiging waarmee die Europese Protestants-Christelike beskawing oor eeue reeds in Suid-Afrika gekonfronteer is, en wat ononderbroke voortduur. Sy siening is beperk tot die bedreiging van die ateïsties-uitgesproke kommunisme alleen. Maar wat van die tipiese vermenging van die Christelike geloof met die Afrika-godsdienste tot 'n sinkretistiese "geloof" waarin Woord- en geloofsuiwerheid verduister word?
Dit is ook vreemd dat Van Heerden eensydig en verwytend wys op die "volksteologie/ideologie" sonder om, billikheids- en balanshalwe, ook te wys op die ideologie van die vyand. Die kern van die "Totale Aanslag" was juis gemik op die vernietiging van die Christelike geloof in Suid-Afrika. En moenie dink dié aanslag is verby nie ; dit verkeer tans net in 'n ander fase.
Van Heerden neig ook om die vorige SA Weermag en NG Kerk aan mekaar gelyk te stel. Het nét NG Kerk-kapelane dan deel gehad aan die SA Weermag, of ook kapelane van ánder Christelike denominasies?
Van die meervoudige motiewe waardeur SA Weermag-operasies gedryf is, was die behoud van die Christendom 'n hoofdryfveer. Net hulle wat bewus is van die vólle militêre strydomvang, sal dit weet ; die gewone "troep" waarskynlik nie.
No comments:
Post a Comment