Ná 'n maand lange besoek aan ons seuns in Engeland is ons weer tuis. Wat 'n voorreg om by vele geleenthede saam met ons kinders hul nuwe omgewing te kon verken en geniet ; 'n fees vir die sintuie en inspirasie vir die gees om kortstondig van ons negatief-oorheersde Suid-Afrikaanse omgewing te kon ontsnap.
'n Tydelike gemis - met groot dankbaarheid ervaar - was dié aan minibus-taxi's op die Engelse paaie, gekenmerk deur hoflikheid en geduld in druk verkeersvloei ; die opsigtelike afwesigheid van grootskaalse armoede, asook die afwesigheid van 'n bakhand-mentaliteit gekombineer met 'n gesindheid van "ek doen niks tensy ek daarvoor vergoed word nie".
Wat 'n skrille kontras om weer tuis te wees waar trots en lojaliteit van my as landsburger verwag kan word. Ek het nou groter begrip waarom ons jongmense ons land verlaat vir 'n heenkome elders. Onder die amptenare by paspoortbeheer op die OR Tambo-lughawe in Johannesburg, merk ek geen bruin-, Indiër- of wit gesig nie ; so ook nie by die SAL-toonbanke vir bagasie-inlewering en instapkaarte nie. 'n Buitelander se indrukke móét dus dié wees van 'n "onverteenwoordigende alles-is-swart Suid-Afrikaanse bestel".
By die SAL-toonbank word ons een tas in 'n teenoorgestelde rigting gestuur as die ander drie, dog by navraag word ek verseker hulle kom wel weer by mekaar uit. Op die P.E.-lughawe kom net drie daar aan ; die vierde een het agtergebly. Van die drie wat daar aankom, is almal se slotte oopgebreek en verwyder en opsigtelik gepeuter met die inhoud van elke tas, dog - genadiglik - word niks daaruit vermis nie. Dit is vreemd!
Die ontbrekende tas word die volgende dag by ons huis afgelewer ; ook oopgemaak en met die inhoud gepeuter, dog niks is verwyder nie. Vreemd! Die persoon wat dit aflewer, moet ook nog tasse op Grahamstad en Port Alfred gaan besorg - 'n ironiese interpreneurskap vertrekkende vanuit die onbekwame dienslewering van Acsa-amptenare en ten koste van betalende kliënte.
Kan iemand met meer ervaring dalk 'n antwoord verskaf vir ons oopmaak-maar-niks-is-weg-ervaring?
No comments:
Post a Comment