Monday, 30 August 2010

Dankie aan DA vir 'n spoedige antwoord

Dankie aan mnr. Athol Trollip, parlementêre leier van die DA, vir sy direkte skakeling met my in antwoord op my vraag soos in my brief, "Kosrantsoenering 'n DA-alternatief?" (DB 25.08), aan die DA gerig rakende dié se grondhervormingsbeleid.

My brief was in reaksie op media-beriggewing waarin dit gestel is dat me. Zille voorgestel het "...dat boere aan hul werkers 'n aandeel van 50%  in hul belange gee." My vraag aan die DA het gekom vanuit die kwelvraag van "gee", soos deur die media gerapporteer. My vraag is geïnisieer eerder deur onvolledige media-beriggewing as misverstaan.

Die gemiddelde persoon besef dat grondbesit 'n baie kontensieuse, sensitiewe én emosionele aangeleentheid is waaromtrent verskillende kultuurgemeenskappe ook uiteenlopende perspektiewe nahou.

Naas die voortplantingsdrang is die drang na grondbesit   -   primêre voorwaarde vir lewe en voortbestaan   -   een van die heel sterkstes by die mens. 'n Belangrike oorsaak vir die Tweede Wêreldoorlog is juis die feit dat die Geallieerdes ná die Eerste Wêreldoorlog Duitsland van gedeeltes van sy grondgebied ontneem het en Hitler dit vir die Duitse volk wou terugwen.

Etlike duisende S.A. boere is al tydens plaasaanvalle vermoor, 'n nasionale tragedie waarvoor die ANC oogluikend vere voel en, daarteenoor, Robert Mugabe vrye teuels laat in sy onteiening van wit Zimbabwiese plaasboere met rampspoedige gevolge soos hongersnood en ekonomiese agteruitgang. Watter seine stuur dit vir ons eie wit boerderygemeenskap en ons land?

Terwyl sommige swart Afrika-state suidwaarts na ons wit boere as produktiewe voedselverbouers kyk en hulle noordwaarts probeer lok, is dieselfde boere egter 'n bedreiging vir óns land se kleptokrate,magsvrate en nepotiste in regeringsposisies. Sonder enige sweem van rassisme kan gesê word dat dit in hoofsaak die wit boerderygemeenskap en hul plaaswerkers is wat tussen ons en hongersnood staan.

Onsekeres kan gerus me. Zille se "Suksesvolle en produktiewe grondhervorming is moontlik in Suid-Afrika" aanvra en bestudeer. 

Thursday, 26 August 2010

Geweldsperspektief is vals, verwronge

Prof. Jonathan Jansen se artikel, "Leiding vereis liefde asook onversetlikheid" (DB,24.08), verwys.

Jansen plaas die blaam vir die huidige deur gewelds-gekenmerkte staking voor die deur van die vorige regering. Hy vertrek vanuit ene Mahmood Mamdani se stelling: "Die hede is nie sy eie verklaring nie", en vertolk dit sodanig dat hy tot 'n vals en verwronge gevolgtrekking kom.

Jansen ly duidelik aan historiese miopie én kontekstuele blindheid; vandaar sy onvermoë tot 'n insigtelike perspektief op die huidige geweldsoorsake.

Die volgende getuig van Jansen se simplistiese perspektief wanneer hy sê: "...ons land (is) eeue gelede uit geweld en verowering gebore. Die apartheidsregering het mense met reëlmaat gemartel en doodgemaak, en geweld deel van ons sosiale kultuur gemaak...(sodat dit) in ons samelewing geïnstitusionaliseer geraak (het)."

Kan Jansen gemesmeriseer wees deur die Franse Rewolusie-filosowe se valse bon savage-idee? Hy kan homself gerus opnuut weer vergewis van Afrika se eie geweldsgeteisterde verlede vóór die koms van die Europeërs hierheen; asof dit Afrika ontbreek aan sy eie geweldsbloedspoor en selfs kannibaal-diktators soos 'n Idi Amin.

In sy boek, Fool's Gold for Africa, deel dr. Bruno Bandulet in 'n afsonderlike hoofstuk, Death in Africa, sommige van dié vasteland se gewelddadige verlede-wreedhede, met sy lesers.

Bandulet sê: "...the question of democracy is not on the African agenda...(they) are only similar to Western democracies in their outward form, not in the content of the political system...The real scourge of the continent is...violence and murder, to which millions have fallen victim since independence."

In ons eie land "...Chaka paid homage to his dead mother by clubbing  7 000  prisoners to death."

Jansen se geweldsperspektief is ongetwyfeld vals en verwronge.                                         (ngn)

Monday, 23 August 2010

Is kosrantsoenering 'n DA-alternatief?

Daar is in die media berig dat me. Helen Zille, DA-leier, voorgestel het dat boere 'n 50%-aandeel in hul boerderybelange aan hul werkers moet oordra. Hiervoor het sy applous ontvang van me. Joemat-Pettersson, ANC-minister van landbou, asook van plaaswerkers en afgevaardigdes tydens 'n onlangse spitsberaad oor plaasarbeid op Somerset-Wes.

Lesers van hierdie beriggewing vind dit moeilik om te glo; daarom sien ons graag dat dié voorstel óf bevestig óf as onwaar deur die DA verwerp word. Indien waar, moet die DA ook die kort-, medium- en langtermyngevolge wat voorsien word (soos die moontlikheid van toekomstige kosrantsoenering) uitspel.

Indien van boere verwag kan word om 50% van hul boerderybelange in landelike gebiede af te staan, waarom kan daar dan nie ook van huiseienaars in dorpe en stede verwag word om 50% van hul woonerwe vir plakkers beskikbaar te stel, en, nog later, selfs 50% van hul woonhuisruimte aan dakloses af te staan nie?

'n Belangrike vraag wat uit so 'n potensiële scenario voortvloei, is óf die implementering van dié Zille-voorstel die breë S.A.-samelewing "vorentoe" of agteruitwaarts sal laat beweeg. Sal dit bestaande probleme oplos, of net verder vererger?

Sien die DA die onteiening van plase, volgens die Zimbabwiese-model, as onvermydelik ook op die pad van S.A.-boere te wees, en derhalwe dié tydige voorstel, asook potensiële steunwerwing onder die kieserskorps met die oog op die volgende algemene verkiesing? Dalk moet die DA herinner word aan die spreekwoord: Gee jou pinkie, en jou hele hand word gegryp.

As Christengelowige onderskryf ek die apostel Jakobus (1:27) se definisie van egte en suiwer godsdiens wanneer hy sê: "...om weeskinders en weduwees in hulle moeilike omstandighede by te staan...", asook Jesus se uitspraak: "Die armes het julle altyd by julle.." (Matteus 26:11).

Met verminderende skaars hulpbronne, wonder ek of DA-ondersteuners hulself kosrantsoenering as moontlike alternatief vir die huidige bedeling kan voorstel.

Monday, 9 August 2010

Hoe lyk predikante-opleiding vandag?

George Claassen, selfverklaarde ateïs en evolusionis, se voordrag gelewer tydens die heropening van die Teologiese Fakulteit van die Universiteit van Pretoria, asook die onlangse standpunt van prof. Piet Strauss, NGKerk-moderator, oor evolusie, het dié kerk skerp in die openbare kollig geplaas.

Hierdie kerklike gebeure dien as groot bron van kommer vir sommige lidmate oor die koers wat sommige NGKerk-teoloë tans inslaan. Een so 'n besorgde lidmaat is dr. Hennie Mouton wat 'n stuk getitel, "Teologiese opleiding: 'n al groter wordende krisis", opgestel en aan die Kuratorium van die NGKerk voorgelê het.

Hierin wil Mouton, heel tereg, weet waaraan teologiese studente toenemend blootgestel word in ons kweekskole. Benewens ander geloofstandpunte van sommige UP-teoloë, stel Mouton ook spesifiek hul Bybelstandpunte.

So sê prof. Julian Müller, "...ek aanvaar doelbewus dat daar 'n era met denkwyses en taal oor God verbygegaan het" en dat hy "...onherroeplik aanbeweeg het en gefassineer en geïnspireer word deur nuwe denkraamwerke oor God."

Van prof. Willie Esterhuyse se boek, "God en die gode van Egipte", waarin Esterhuyse sê hy "...neem finaal afskeid van...die 'wil' of die 'hand' van God, die lang godsdienstige tradisie waarmee hy grootgeword het", sê prof. Gerda de Villiers dat Esterhuyse se boek "...beslis 'n aanwins (is) in die eenogige geloofslewens van die Afrikaanse Christendom."

Dr. Ben du Toit, skrywer van die Andrew Murray-bekroonde boek, "God? Geloof in'n postmoderne tyd", verklaar daarin dat hy baie groter geloof het in evolusionistiese oorsprongswetenskappe as in die oorspronggegewens van Genesis 1 tot 3." Prof. Jurie le Roux sê hy kan nié oor Abraham preek omdat hy Abraham "nie histories kan 'bewys' nie."

Mouton spreek sy diepe kommer uit wanneer hy sê dat "...gelowiges al meer en meer (moet) besef dat hierdie dosente wat die toekomstige predikante oplei, en selfs sommige van die huidige predikante mislei, besig is om grootskaalse dwaling te saai met die dodelike gevolge   -   ongeloof."

Thursday, 5 August 2010

Ondersteun Strauss se Skrifbeskouing


Afgetrede Dominee se skrywes, "Gelowiges kan ook wetenskap beoefen" (DB,05.08) en "Nuwe vertaling van Bybel is dalk nodig" (DB,28.07), verwys. Dit is met groot skok én teleurstelling dat ek dit gelees het en wonder terselfdertyd waarom hy agter 'n skuilnaam wegkruip.

Die evolusiegesprek betrek onvermydelik die Bybel én God as die outeur daarvan. Uit sy skrywes word dit duidelik dat Afgetrede Dominee God as Skepper erken, maar nié vir God as Geïnspireerde Skrywer van Sy Woord erken nie. Dit blyk dááruit dat hy verwys na "...die mitiese karakter van...die Ou Testament (waarin die Skeppingsverhaal beskryf word)...", en hy wil hê dat dit "...hervertaal moet word, binne die jongste wetenskaplike konteks..." waaronder ook evolusie as "wetenskap" gereken word.

Hy vra dan ook of prof. Piet Strauss, NGK-moderator, "...so totaal oningelig kan wees oor die moderne wetenskap, wat ...evolusie...insluit." Verder sê Afgetrede Dominee, Strauss se "...spesifieke Skrifbeskouing is baie verdag en Middeleeus dogmaties"; daarom "...dat hedendaagse (ingeligte) Christene hul toevlug neem na 'n kerkdiens in die Thirst Pub & Grill in Pretoria..."

Afgetrede Dominee, u standpunt oor die Bybel en evolusie verteenwoordig maar slegs één van vele standpunte. George Branch, emeritus-professor in Dierkunde aan die UK, onderskei vier sulke tipes standpunte. Ook André van Zyl, in sy artikel, Evolusie op skool - Wat staan 'n Christenouer te doen?, onderskei óók vier standpunt-tipes.

Ek neem kennis van u standpunt, maar deel dit nie en verwerp dit geheel en al. As NGK-lidmaat is dit vir my belangrik om te verneem na die standpunt van die NGK-leierskap. Selfs hierdie standpunt van 21-22 Junie 2009 van die Moderamen wat lui: 1. evolusie is 'n wetenskap; 2. evolusie mag maar in skole onderrig word, en 3. lidmate moet maar sélf oor evolusie besluit, vind ek bedenklik.

Tans skaar ek myself volledig by die, volgens u, "Middeleeuse" Skrifbeskouing van prof. Strauss.