Tuesday 28 June 2011

ANC kan uit Britse voorbeeld leer

'n Ekonomiese beraad, gereël deur "The Times" vir 20-21 Junie en bygewoon deur meer as 'n honderd vooraanstaande sakeleiers en politici   -   waaronder die premier, David Cameron, èn opposisieleier, Ed Miliband   -   het verlede week groot prominensie in die plaaslike pers geniet. Die doel daarvan was dat sakeleiers en politici gesamentlik nuwe idees vir ekonomiese groei kon genereer, terwyl die tema daarvan was om die "Groot" weer in "Groot Brittanje" terug te plaas.

'n Kort memorandum is na afloop van die beraad geformuleer waarin die volgende vyf prioriteitsvereistes vir Britse ekonomiese groei uitgestippel en aan die regering gestuur is: investering in wetenskap, wiskunde, ingenieurswese en tegnologie deur verbetering van die onderwysstelsel; wysigings aan die belastingstelsel; beter beplanning van die nasionale infrastruktuur; groter beleggings in kleiner en middelslag sakeondernemings, en beter beplanning en regulering van die plaaslike regeringstelsel.

Die Britse demokrasie het ook plek vir kritiek. So verwys Andrew Lloyd Webber in 'n brief na "rubbish services in everything from health to education", en "a Third World Heathrow airport" met sy 1231 vlugte per dag met meer as 76 000  werknemers wat jaarliks 65 miljoen passasiers hanteer.

Stel jou voor dat die media in S.A., wat met soveel vyandige agterdog deur die ANC bejeën word, 'n soortgelyke beraad tussen regerings-, opposisie- en sakeleiers sou reël; dat kritiek erkenning sal geniet; dat die doel is om almal in S.A. se belange te dien en nie net die van die ANC nie; dat die beginsel van 'n interafhanklike en samewerkende vennootskap tussen die openbare en private sektore erken en toegepas word.

'n Mens wonder of ANC-leiers en -amptenare wat die buiteland besoek, hoegenaamd daarop ingestel is om enigiets tydens hul reise te leer tot die voordeel van S.A., en of hulle dit slegs as "'n lekker tyd" geniet op belastingbetalerskoste. Die ANC kan uit die Britse voorbeeld leer.

No comments:

Post a Comment