Dit is met groot eenstemmigheid dat ek Frans Swanepoel se brief, "Predikante bang om oor Belhar te praat" (DB,31.10), lees, sowel as met waardering teenoor "Die Burger" vir die plasing daarvan. Swanepoel wys op "predikante wat deur die sinodes voorgesê word", dat die NG Kerk reeds duisende lidmate oor Belhar verloor het, en dat predikante lidmate graag oningelig oor Belhar wil hou. Swanepoel is korrek; dit is presies ook my indrukke.
Beide die swart "dogterskerk" (NGKA) én die Indiër-"dogterskerk" (RCA) van die NG Kerk aanvaar nie Belhar nie. Kovilan Moodley van die RCA sê die volgende van Belhar: Belhar handel oor 'n maatskaplike euwel en ideologie (apartheid) in 'n sosiale en politieke konteks; Belhar is bloot 'n verklaring en nié 'n belydenisskrif nie; Belhar kon nie die skeuring tussen die vroeër eengeworde NGKA en die VGKSA voorkom nie; geskeidenheid kan nie as sonde beoordeel word soos wat Belhar sê nie; wie is Belhar se arbiter as dit kom by "geregtigheid"?; Belhar verkondig 'n sosiale evangelie; dat "God op 'n spesiale manier aan die armes se kant is", het géén Bybelse gronde nie; Belhar gaan selektief met die Bybel om; Belhar roep lidmate op om gay-lidmate se regte te verdedig; die kern van Belhar is "eenheid", nie Jesus Christus nie, en Belhar het die potensiaal (word reeds bewys) om diepe verdeeldheid te veroorsaak.
Moodley se kritiek op Belhar is slegs dié komende vanuit die Indiër-"dogterskerk". Daar is nog 'n veel wyer spektrum van kritiek komende vanaf oud-moderators, teoloë en predikante uit die "moederkerk" self. Swanepoel is reg. Die heersende NG Kerk-strategie is: hou die lidmate oningelig oor Belhar.