Petrus (DB,03.07) verklaar my tot 'n fundamentalis (skeldnaam vir behoudende Christene), 'n etiket wat ek met trots dra - sou hy daarmee bedoel dat ek onbeskaamd van my Christenskap getuig - dog waardeur ek, volgens hom, "aanstoot gee en (wat) lei tot sektariese godsdienstige verdeeldheid." Hy is heftig gekant teen "die gebruik van briewekolomme om...persoonlike geloof te bely", omdat dit "geen eerbied toon vir ander se beskouings en uitgangspunte nie." So verhef hy die skepsel tot norm vir getuienislewering; nie die daartoe opdraggewende Skepper nie.
Petrus se beswaarmaking word gekenmerk deur 'n inherente teenstrydigheid; 'n sinloos inkonsekwente argumentering. Ek verduidelik my stelling. Hy sê: "...die gevaar bestaan dat opponerende godsdienstige dogmas...mense...kan opsweep tot vooroordeel en onverantwoordelike dade", die gratis plasing daarvan deur hom veroordeel, maar tog die betaalde advertering daarvan goedkeurend propageer. Hoe rym dit?
Petrus se werklike beswaredryfveer word daarom ontmasker wanneer hy sê: "...koop advertensieruimte in die openbare media waar...(jy jou) persoonlike belydenis kan betuig." Só hou hy mos nie die gewraakte "oneerbiedige opswepende vooroordeel" uit die koerante nie! Nee, sy hoofbeswaar is teen die gratis plasing daarvan - wat hy gelyk stel aan "goedkoop godsdienstige vertoon" - terwyl hy wil hê dat ten duurste daarvoor in advertensieformaat betaal moet word. Sy hoofbeswaar het 'n materiële motief, naamlik geld, waarvolgens gratis=problematies ; betaling=nie-problematies.
Dit uitgeklaar, is Petrus se eintlike beswaar daarom indirek teen die koerant gerig; nie briefskrywers nie. Staak daarom, asseblief, jou aanvalle op skrywers - ook Christene - wat wel deeglik die grondwetlike reg tot vryheid van spraak en meningsuiting geniet. (ngn)
No comments:
Post a Comment