Monday, 25 August 2014

Kerk is ons 'n verduideliking verskuldig

Tydens die Vrystaatse buitengewone sinodebyeenkoms (29.07) sê prof. Johan Janse van Rensburg, teoloog, 'n mens kan integriteit van die NG Kerk verwag, dog, in die proses om die Belharbelydenis (BB) aanvaar te kry, is dié integriteit geskend en die speelveld ongelyk gemaak. In 2013 besluit die Algemene Sinode (AS) dat die BB in die Kerkorde (art.1) opgeneem moet word. Reeds vòòr 2013 al, gee die AS-moderator 'n onderneming aan die VGK dat die BB deur die NG Kerk aanvaar sal word (Kerkbode,17.10.12). Hiermee word die kerkordelike proses, strydig met art.44 daarvan, "omgekeer". 

Ter regverdiging van dié kerkordelike onreëlmatigheid word beweer dat die doel bloot was om 'n vraag vir gemeentetoetsing te formuleer   -   'n besluit word kwansuis 'n vraag? Maande na dié bewering rapporteer Kerkbode (Jan. 2014) dat so 'n vraag nié geformuleer was nie, dus: 'n bedenklike "regverdiging"? Janse van Rensburg sê BB, as 'n "opsionele" belydenisskrif word as 'n "kompromie" en "lokaas"  aangebied om lidmate te beweeg om vir die wysiging van Kerkorde-art.1 te stem, dit terwyl die VGK reeds onomwonde verklaar het die "opsionele" hantering van BB onaanvaarbaar is, en hulle voorkant toe "die onvoorwaardelike aanvaarding van Belhar sal vereis. Om daaroor te swyg, impliseer dat hulle (die lidmate) dus mislei word."

Die 2013-AS aanvaar Belhar sònder eenstemmigheid met die NGKA en die RCA. Tydens sogenaamde Oos-Kaapse "roadshows" was daar vrae hieromtrent, asook òf die VGK tevrede is met die "opsionele" opsie, waarop ja geantwoord is terwyl dit nee moes wees. Verder sê die professor daar is "onweerlegbare bewys dat inligting wat teen die aanvaarding van Belhar is, op verskillende maniere van lidmate en predikante weerhou word." Ruimte ontbreek vir verdere voorbeelde.

Die NG Kerk is beslis sy ontnugterde lidmate 'n verduideliking op hierdie ernstige integriteitsaanklag verskuldig.                (ngn)







Monday, 18 August 2014

Belharbeitel laat kerkfondamente skeur

Neels Jackson se Kerkbode-artikel (01.08), "Belhar: 'n voorstel wat ruimte bied vir almal", ontlok die vrae: watter sóórt ruimte, en deur wié geskep? Dit verwys na 'n drie-fase aangeleentheid: kerkordewysiging, Belharaanvaarding (BB) en kerklike eenwording, waarvan die BB-kernbegrippe   -   eenheid, versoening en geregtigheid   -   se interpretasie-  en implementeringspotensiaal steeds duister en onuitgeklaar bly, en daarom oor Phororo-konflikpotensiaal beskik.

Die gemelde "ruimte" is een wat lidmate, wat skerp van mekaar oor die BB verskil, binne 'n ambivalente spanningsvol-verdeelde kerklike bestel wil akkommodeer, 'n "ruimte" deur beswaarblinde en protesdowe kerkleiers geskep wat   -   deur kerklike transformasie   -   'n fundamentele verskuiwing vanaf Skrifgesag na lidmaatgesag teweeg wil bring.

Kerkleiers self is verdeeld en verskil oor sake soos die bestaan van Satan, voorhuwelikse saamwoon en seks, dieselfde-geslag huwelike, die ewolusieleer, die Bybel is glo deur mense geskryf en nié onder leiding van die Heilige Gees nie, sommige Bybelgedeeltes is kwansuis mites, ens. Sal die, deur kerkleiers-verblinde lidmate, ook later hieroor moet stem en só nog verdere verdeeldheid teweegbring?

Hierdie scenario pas die Bybelvoorspelde beeld van die eindtydse kerk: "...daar sal 'n tyd kom wanneer die mense die gesonde leer nie meer sal verdra nie. Hulle sal hulle eie begeertes volg..." (2 Tim.4:3)

Die NG Kerk kry 'n klein, klein Belharbeiteltjie en tik hom en hy klink; en slyp en slyp hom totdat hy klink en blink. Toe, onder die Belharbeiteltjie bars die kerkrots middeldeur en langs ons voete voel ons dié kerkfondamente skeur. Dié skeur loop deur ons kerk en kloof hom wortel toe   -   só moet die Belharbeitel slaan wat belydenis is, of hoe? (Met apologie aan N.P.van Wyk Louw se "Die beiteltjie".)




Monday, 11 August 2014

Ordentlikheidsmaskers lyk bra "wollerig"

Ek verwys na dr. Kobus Anthonissen se "So lyk die maskers van ordentlikheid" (DB,07.08). Hy is reg in soverre as dat ons as mense "maskerdraers" is. Indien ek my nie vergis nie, kom die woord "persoon" vanaf die Griekse "persona" wat 'n masker was wat die Grieke tydens dramaopvoerings gedra en deur gepraat het. So dien ook ons gesigte as "maskers" vanwaar agter ons praat, terwyl ons "ware self" daaragter versteek is.

Anthonissen, afgetrede NG-predikant en psigoanalitiese terapeut, se drieledige tipologie van "ordentlikheidsmaskers" kom vir my ietwat "wollerig" voor. Na my oordeel ignoreer hy die verskynsel van kultuur,  -verskille en verskillende  -kontekste, as belangrike determinante van ordentlikheid, geheel en al. Na my mening is ordentlikheid kultureel-bepaald en manifesteer daarom verskillend binne verskillende kultuurgemeenskappe.

Voorts meen ek is 'n gedissiplineerde leefwyse 'n belangrike én noodsaaklike bousteen van/vir ordentlikheid; sonder enige dissipline, géén ordentlikheid. Wanneer Anthonissen dus sê dat "mense gebore en opgevoed sal word in ordentlikheid" 'n belangriker prioriteit as "die oorwinning oor armoede, korrupsie, werkloosheid en rassewrywing" is, dan wil ek beweer dat een van die vertrekpunte ter oplossing van al dié gemelde dinge, die herstel van S.A. se algemene gedissiplineerdheid daarvoor nodig is. So word ook 'n hele ent met die herstel van ordentlikheid gevorder.

Hy meld géén kriteria waarop sy uitsprake berus nie, soos: "Verwoerd, een van die mees omstrede figure...ewe demonies is die beeld van dr. Wouter Basson...die Steve Hofmeyrs en Malemas woon in ons almal..." Nee, Anthonissen se ordentlikheidsbetoog kom my maar bra "wollerig" voor.




Tuesday, 5 August 2014

Kreta het ook eie Skimmelperdpanruiter

Hoe bevoorreg is ons nie. Ons kuier saam met ons twee seuns en hul gesinne op Kreta met die lieflikste vakansieweer denkbaar. Ses eeue voor Christus sê Epimenides van Kreta die Kretensers is altyd leuenaars, ongediertes en lui vrate (Titus 1:12). Weens die invloed van hul kerstening kan ek egter getuig van hul spontane vriendelikheid, warm hartlikheid en akkomoderende gasvryheid.

Ons jongste seun neem ons per twee-uurlange veerbootreis op 'n verrassingsbesoek na die Griekse eiland Santorini   -   eens 'n aktiewe vulkaniese krater   -   met sy pragtige berghelling-geleë dorpies en fantastiese panoramiese uitsigte. Die veerboot-terugreis ontaard ongelukkig vir sommige van ons in 'n nagmerrie. Saam met my oudste seun besoek ek die ruïnes van Knossos digby die hoofstad, Heraklion, argeologiese oorblyfsel van die dusver oudste Europese beskawing blootgelê uit die Minoïese tydperk en voorwerperyk soos te besigtig in die Argeologiese Museum in Heraklion.

Ek vind Kreta se moderne geskiedenis besonder interessant, veral dié tydens WO2. In Mei 1941 val Duitsland Kreta binne met die neerlating van duisende valskermsoldate, waaronder ook die drie jeugdige Von Blucher-broers, elk met die adellike titel van graaf; afstammelinge van veldmaarskalk Von Blucher, Pruisiese held van die Slag van Waterloo. Al drie broers sneuwel op die eerste aanvalsdag. Die jongste, negentien jaar oud, word doodgeskiet digby sy oudste broer na wie hy te perd op pad was. Omgewingsinwoners getuig van 'n jagende perderuiter wat soms nog daar opgemerk word. Waaraan anders as A.G.Visser se "Die ruiter van Skimmelperdpan" laat dié verskynsel my nie dink nie? Dié digter se "ruiter van die dood" is dus nie net uniek aan S.A. alleen nie.




Bly vaderlandsnaam steeds eervol dra

Elke persoon skryf lewenslank 'n eie "verhaal". Indiwiduele "verhale" is altyd verweef met dié van ander, beginnende by die gesin, familie, kultuur-  en volksgroep waartoe behoort word. Synde medeskrywers aan 'n histories voorafgaande "groter verhaal", soek sommige ywerig na die oorsprong daarvan wat interessant en opwindend kan wees.

Sestig jaar gelede, as laerskoolseun, skenk my ouma aan ons gesin 'n kopié van die Afrikaner Familienaamboek. Daarin ontdek ek my Duitse familiewortels   -   sedert die elfde-twaalfde eeue edelliede van die Hertogdom van Hesse. Hierdie inligting open 'n kinderlike fantasiewêreld met 'n sprokieskasteel as deel daarvan.

Tans op besoek aan ons jongste seun en sy gesin in Luxembourg, besoek ons die Buerresheimkasteel   -   sedert die begin van die sestiende eeu in besit van die Breit(en)bach-familie   -   naby die Duitse dorp Mayen. Hierin vind kindertydse fantasie konkrete vergestalting. My eie afkomslyn nie noodwendig daartoe behorende nie, bly dit egter assosiatief 'n inspirerende "wortelverhaal" om mee te identifiseer.

Europees van oorsprong, sit Afrikaners, as "medeskrywers", na eeue steeds hul "oorsprongsverhale" in 'n Afrikakonteks voort. Nie meer van Europese nasionaliteit nie, vind Afrikaners egter die adellike voortsetting daarvan in ons eie "Boere-adel", dalk nie meer materieel-  en titelgewys nie, maar wel nog spiritueelgewys. Laat ons daarom daarteen waak dat ons nie deur korrupsie van ons transformerende omgewing ingesuig word nie, maar steeds sal bly sê: Vaderland ons sal die adel van jou naam met ere dra,waar en trou as Afrikaners, (ook) kinders van (die nuwe) Suid-Afrika.          (ngn)