My indruk uit gesprekke met medelidmate oor Belhar, is dat vele onseker is vanweë onvoldoende inligting. Waar kennis wel bestaan, berus dit op eensydige inligting soos deur die pro-Belhar NGK-leierskap beskikbaar gestel - "Kerkbode" van 1 Augustus 2014 en die "gereedskapkis" (toolbox) van dié kerk as voorbeelde. Anti-Belharinligting word weerhou en/of verswyg.
Prof.Piet Strauss beskryf in sy bydraende hoofstuk, "Die belydenisbeweging teen apartheid", tot die boek, "Belhar Geweeg", voortreflik hoedat Belhar gebore is uit die rewolusionêre stryd teen apartheid. Apartheidsvernietiging is reeds vir al meer as vyf dekades die primêre dryfveer, aanloop en agtergrond tot Belhar. Die Bybel beklee 'n sekondêre posisie waaruit teksverse - doeldienlik gekies en vertolk - aangewend word om dié bevrydingsteologies georiënteerde geskrif te motiveer.
Dié "verbintenis" tussen Belhar en apartheid duur onverpoosd en onverbloemd voort waaruit lidmate self afleidings kan maak. Die NGK-moderator, prof. Niemandt, sê: "...as die NG Kerk Belhar sou verwerp, sal dit wyd gesien word (deur wie?) as 'n terugkeer na apartheid" (Beeld,23.08.13). In een van sy laaste briewe haal wyle dr.Mauritz Vorster (DB,18.09.07) vir prof. Piet Naude soos volg aan: "Die laaste bastion van wit Afrikaneroorheersing (bedoelende NGK) kan val - dit sal uiteindelik die einde van apartheid wees."
In Volksblad (31.05.13) sê ds.Willem Botha: "Tydens drie streekbyeenkomste van die NG Kerk Vrystaat is (gesê)...dat die aanvaarding van Belhar die toetssteen is of iemand inderdaad apartheid afgesweer het..." In "Waaroor word gestem?" (DB,25.11) word berig: "Die belydenis het ontstaan in 'n konteks van 'geskeidenheid' en 'aparte kerkvorming'..."
In die lig van dié onontkenbare "verbintenis" tussen Belhar en apartheid, behoort elke lidmaat duidelikheid daaroor te kry en Belhar ook daarvolgens beoordeel. Belhardenke is apartheidsgemoeide denke.