Volgens gereformeerde kerkreg is Christus die hoof van die vier amptelike NG-kerkvergaderings: kerkrade, ringe, sinodes en algemene sinode - elkeen met selfstandige besluitnemings- en regsbevoegdheid. Hoe vreemd ook al, 'n kerkraadsafgevaardigde na 'n sinode mag dáár anders stem as sy kerkraad. Elke vergadering bid om leiding van Bo, en stem daarna, let wel: "soos deur die Heilige Gees (HG) gelei".
'n Afgevaardigde kan vanuit 'n kerkraad kom, dáár deur die HG gelei om anti-Belhar te stem, en hom dan tussen sinodegangers bevind wat deur die HG gelei word om pro-Belhar te stem. Is HG-leiding dan inkonsekwent, óf besluit bidders reeds vooraf wat húlle wil hoor?
Waaraan moet hierdie onskriftuurlike HG-karakter vir sommige - van oënskynlik anomaliese diskrepansie - toegeskryf word? Een moontlike antwoord het betrekking op die grens tussen geloof (bowerasioneel/geestelik) en menslike emosie (rasioneel/psigies) wat, deur manipulasie, sodanig kan vervloei dat die onderskeiding tussen die "HG-stem" (geloofstem) en 'n welsprekende "kerkleierstem" (emosie) haas ononderskeibaar word sodat laasgenoemde - vanweë stem- en luisterverwarring - vir eersgenoemde aangehoor word.
Voorbeeld; Kerkleiers kan sinodegangers wysmaak dat 'n ja-stem vir wysiging van Kerkorde-artikel 1 nié 'n pro-Belhar stem is nie, maar "om uit Christelike liefde ruimte vir mekaar te maak", terwyl dit tog duidelik beteken om die belydenisdeur vir Belhar te open.
Die vraag is daarom: wie se stem hoor kerklike besluitnemers werklik, dié van die HG óf kerkleiers s'n, en stem dan daarvolgens?
Baie goeie punt Tommie. Dis presies wat by Oostelike Sinode gebeur het rakende Belhar. Lees ook hier ( en kyk regs vir meer artikels hieroor) :
ReplyDeletehttp://hierstaanek.com/2014/10/30/afgevaardiges-na-oostelike-sinode-pleeg-laakbare-vertrouensbreuk-met-hulle-gemeentes/